Dames geniet die oggend saam met SAVF
Vroue van oral oor die Laeveld het by die Nederduitsch Hervormde Kerk in Belladonnastraat bymekaargekom om die oggend ten bate van SAVF, Herfsakker-tehuis, Cecilia van Wyk Kleuterskool en SAVF Maatskaplik saam te geniet.

MBOMBELA – Saterdagoggend was propvol bemagtiging en aanmoediging by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se damestee.
Elke tafel het ‘n gasvrou gehad wat die tafel moes dek en vingerhappies voorsien. Die kreatiwiteit het geblom en die saal het gelyk soos ‘n toneel uit Alice in Wonderland. Harlind, ‘n sang-duo van Pretoria, en Natascha C, ‘n plaaslike kunstenaar, het die inwoners vermaak.

KYK OOK: SAVF-damestee 2019
Natascha C het ook ‘n paar woorde van inspirasie oor die tema van die dag, ‘Ek kan!’, gelewer.
Irna Hartzenberg, voormalige president van die SAVF, was die eregas en het die geskiedenis van die SAVF met die dames gedeel en ‘n hartroerende toespraak gelewer.

“Onthou, die SAVF is juis gestig in ‘n tyd van hulpbehoewendheid tydens die oorlogjare van 1904. Hulle het gepraat van die verskroeide aarde, en dit was juis hierdie dryfkrag en bewustheid van die ellende wat die organisasie gehelp het om ‘n groot verskil in Suid-Afrika te maak. As ons destyds dit kon doen, hoeveel te meer nie vandag nie. Ons kan!”
Die oggend is afgesluit met ‘n gelukkige trekking. Pryse het ingesluit ‘n Woolworths-koopbewys, geskenke van Violet & Rose en ‘n koopbewys van Body Cure. Twee skilderye van plaaslike skilders is ook opgeveil om fondse in te samel.
LEES OOK: Nelspruit Care Buddies bring lag en gesels na SAVF Herfsakker

