Oesfees om die draai
In die koerant was dit verkeerd berig dat die basaar hierdie naweek plaasvind, dit is egter eers volgende naweek 25 en 26 Oktober.

LYDENBURG – Volgende Saterdag is dit weer tyd vir NG Kerk-Suid se jaarlikse Oesfees.
Vanaand vanaf 17:00 tot 19:00 vind ‘n lekker braai-ete en gesellige kuier by die kerk plaas. Bring wegneemhouers of piekniekmandjies met eetgerei en eie drinkgoed en kom kuier saam. Die sanggroep Citation gaan deurentyd musiek verskaf.
Saterdagoggend se verrigting skop om 08:00 af met ‘n plaasontbyt teen R50 per persoon. ‘n Wegneemontbyt kos R30 per persoon. Deur die dag kan besoekers ontspan in die teetuin met ‘n koppie koffie of tee, koeldrank en ‘n lekkerny daarby.
Lekker tuisgemaakte gemmerbier en lemonade is ook beskikbaar. Kom koop vleis teen billike pryse, pannekoek, kerrie en rys, poeding, worsrolle en pap en kaiings.
Moenie vergeet van die koek- en geskenke tafels nie, asook allerlei ander stalletjies en aktiwiteite. Kaartfasiliteite is beskikbaar.
Die gewilde Warrior Race wat al sinoniem met die Oesfees is, gaan weer vanjaar ‘n hoogtepunt wees. Dit is ‘n pret-aktiwiteit vir laerskool- en hoërskoolleerders. Spanne van vier kan in verskillende kategorieë deelneem (graad R tot drie, graad vier tot sewe en graand agt tot 11) met pryse op die spel. Daar is ook pryse vir spangees en spandrag. Kom skryf jou span Saterdag by die Warrior-stalletjie teen R240 per span in.
Die kerk vier vanjaar sy 50ste bestaans-jaar. Ter viering hiervan gaan daar op
15 November by verskillende openbare parke in die dorp 50 inheemse bome geplant word. ‘n Spesiale monument gaan ook dié dag by die kerk onthul word, gepaardgaande met ‘n potjiegeselligheid. Almal is welkom om in die verrigtinge te deel.
