Local newsNews

Onderberg-ikoon word onthou as ‘n ware heer

Fasie Kritzinger, die eerste hoofbestuurder van die eertydse TSB, is die naweek oorlede op die ouderdom van 95 jaar.

MALALANE – ‘n Groot boom het geval. Fasie Kritzinger word onthou as ‘n gentleman. Hy was ook ‘n Laeveldse pionier.

Kritzinger is in September 1965 aangestel as die eerste hoofbestuurder van die eertydse TSB, nou RCL Foods.

“Hy het so ‘n presence gehad, en dat hy ‘n leemte gaan laat is verseker,” sê sy dogter, Riana Kritzinger.

Fasie was ‘n ikoon in die Onderberg. Hy het as jong ingenieur by Stewarts and Lloyds begin en toe by Anglo Alpha Cement as hoofingenieur.

“Hy het groot opspraak verwek deur ‘n metaal kiln wat gebuig het in ‘n skielike wolkbreuk, reg te buig deur wiskundige formules en sy kennis van metal fatigue, wat hy goed geken het.”

Dit het ook internasionaal aandag getrek en hy is aanbeveel vir die pos by Malalane.

Hier het hy en sy vrou, Ria, ‘n kultuur van gemoedelike samekomste en baie musiek geskep.

“Die beginspan van TSB was en is soos ‘n familie. Almal het hard gewerk aan ‘n gemeenskaplike doel. Dit is wonderlik om te weet dat TSB een van die suksesvolste suikermeule in Suid-Afrika geword het.”

Riana sê haar pa het sy dae op Malalane baie geniet en die harde werk het hom soos ‘n handskoen gepas. “Hy was ook een jaar die Malelane Gholfklub se kampioen. Hy het sy gholf baie geniet.”

Na sy aftrede was hy vanaf 1986 tot 1990 op die bestuur van die Suikervereniging asook voorsitter van die raad van Zululand se universiteit vir 11 jaar.

SIEN OOK: Elephant shot dead in KNP staff village

In 2000 het die egpaar Pretoria toe verhuis, waar Ria baie siek geword het.

“Fasie het haar vir agt jaar so goed versorg en alles in sy vermoë gedoen om haar by te staan. Sy is in 2008 oorlede.”

Intussen is hulle seun, Johan, in 2004 ook oorlede. Fasie het in 2017 saam met Riana Strand toe getrek.

“Sy gesondheid het goed gehou vir ‘n man van 95, tot in Februarie toe hy voedselvergiftiging opgedoen het. Daarna het hy begin sukkel met sy gesondheid, maar was altyd nog reg vir ‘n grappie, of nog ‘n uiteet iewers in die mooie Kaap.

“Hy was gefassineerd deur die pragtige bome in die omgewing, veral Vergelegen se ou bome. Ons is so dankbaar dat hy nog tot die laaste week heeltemal belanggestel het in die mense om hom, die nuus en die rugby.”

‘n Diens word op 2 November om 10:30 by NG Kerk Faerie Glen, Pretoria, vir Fasie gehou, met ‘n samekoms na die tyd by Woodhill Gholflandgoed. Navrae: Riana by 082-779-4205.

LEES OOK: ‘n Nuwe, sierlike sport binnekort in die Laeveld

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button