Vreugde blom tydens Afri Orchids opedag
Orgideë aankoop en groei kan ’n obsessie raak as ’n mens eers begin. Dit is volgens die mede-eienaar van Afri Orchids, Jolisa Grobler.
MBOMBELA – Hulle het onlangs hulle opedag gehad waar enigeen kan opdaag en blomme koop of selfs net waardeer. Op die Afri Orchids-perseel in daar ’n kwekery asook ’n klein area waar orgideë-entoesiaste onder meer koffie, tee, koek en broodjies kan geniet.
Jolisa en haar man, Lourens, besit Afri Orchids (net buite Mbombela) saam en bedryf dit nou al vir 20 jaar.
Sy het gesê hulle “probeer baie hard dat mense leer van plante en van die orgideë en dat dit eintlik makliker is as wat jy dink.

“Ek dink daar is ’n baie groot miskonsepsie dat die plante baie moeilik is of dat dit iets is wat jy by Woolies koop en as hy eenkeer geblom het, gooi jy hom weg.”
Opedae, soos dié op 29 en 30 Augustus, gebeur egter net vier of vyf keer per jaar, aangesien die eienaars dikswels rondreis juis as gevolg van die orgideë. Die volgende geleentheid is vir 3 en 4 Okober geskeduleer.
LEES OOK: Die einde van ‘n era vir vriendelike Fanie by Hoërskool Nelspruit
Sy het vertel dat daar wêreldwyd rofweg 30 000 spesies orgideë is – kruisings is daar nog meer. Suid-Afrika het ongeveerd 5 000 spesies, maar die meeste daarvan kan nie in kweekhuise gegroei word nie. Dit wat ’n mens byvoorbeeld in woolies kry is kruisings, en groei makliker.

By Afri Orchids is daar R20 plante, R60 plante en dan selfs een wat R10 000 kos. “Maar dit is baie ekstreem. Die gemiddelde plant is tussen R150 en R300.”
Orgideë kan ’n mens glo nie sommer net so van saad af groei soos baie ander plante nie. Jolisa het gesê hulle stuur hul saad weg Thailand toe en kry dit dan weer in bottels terug. Daar is 13 kweekhuise by Afri Orchids waar al die plante in hul verskillende fases gesien kan word.

“Van saad tot blom (hang af wat dit is) kan dit drie tot sewe jaar neem voor mens ’n blom en ’n plant het.”
LEES OOK: Vrou soek werk voor haweloosheid haar vang
