Vrou soek werk voor haweloosheid haar vang
‘n Vrou wat elke dag gevrees het vir die dak oor haar kop, se gebede is uiteindelik verhoor.
Susan le Grange (62) is vir die afgelope twee jaar sonder werk en het in dié tyd alles probeer sodat sy en haar seun, Jean-Pierre (32), nie op straat beland nie. “Ek het nie my werk verloor omdat ek iets verkeerd gedoen het nie. Ek is bloot gevra om met pensioen te gaan,” vertel Susan.
In desperaatheid het sy ‘n brief geskryf aan Good Morning Angels van Jacaranda FM. In dit het sy vertel: “Ek is agter met my huur en my woonstelverhuurder het ‘n boodskap gestuur wat sê dat as ons nie betaal nie, ons op straat gesit sal word. Ek hou aan om my CV uit te stuur, maar ek hoor niks.
Ek is bereid om enige werk te doen, maar ek het ondervinding in administratiewe werk en rekeningkundige sagteware, en ek het al as ‘n ontvangsdame gewerk. Dink julle dat Good Morning Angels ons dalk sal kan help?”
Susan en haar seun het intussen los werkies gedoen om kos te kan koop. “Ek hou vreeslik van bak en kook en probeer die afgelope rukkie aan tuisnywerhede voorsien.
LEES OOK: Leer bestuur op regte toetsbaan
“Ek dink mense dink ek is te oud, maar ek is baie gretig om te werk en om ‘n inkomste te verdien,” sê sy. Jean-Pierre sukkel ook om vaste werk te kry. Hy het matriek en het ook vir twee jaar grafiese ontwerp studeer.
Hulle woon saam in die huurwoonstel en het hulle agter geraak met hul huur van R3 830 per maand.
“Ek het elke maand betaal wat ek kon, maar ons skuld nou al R19 500 en ek is so bang ek kom een middag by die huis en die verhuurder het alles toegesluit en ons kan nie in ons huis inkom nie.”
Jacaranda FM se Good Morning Angels op Breakfast with Martin Bester het Susan gekontak en saam met LottoStar die uitstaande bedrag van R20 000 betaal, en ook vir haar R5 000 gegee om haar te help om ‘n nuwe plekkie te kry.
“My hart is seer omdat ek al vir baie lank in die woonstel bly en dit is nie maklik om weg te gaan nie. Ons soek nou nog na ‘n ander plek, maar dis moeilik omdat ons nie werk het nie.”
Susan het ook vertel hoe, toe sy die uitstaande huur aan die woonstelverhuurder wou oorgee, dié toe ‘n sagheid oor haar hart gekry het en gesê het sy kan eerder die geld hou en gebruik vir ‘n ander woning se huur. “Sy is nie ‘n slegte mens nie, sy wil net seker wees dat sy ook haar geld elke maand kan kry, wat ‘n mens kan verstaan.”
Susan het in ‘n stadium haar eie onderneming gehad: ‘n roomyswinkel wat nie kon oorleef nie as gevolg van beurtkrag. “Ek het sommige oggende by die winkel gekom dan was al my roomyse daarmee heen.” Die kerk waaraan sy behoort, Church Unlimited, help ook waar hulle kan. “Ek is so dankbaar vir my medemense by die kerk, hulle is regtig my beskermengele,” sluit sy af.
LEES OOK: Die einde van ‘n era vir vriendelike Fanie by Hoërskool Nelspruit
