Local newsNews

Bekende Barberton paartjie uiteindelik terug uit Nieu-Seeland na streng wêreldwye inperking

Lynette se skoolmaats van Hoërskool Nelspruit van 1977, het gou aan die werk gespring en kon die Spencers finansieel help om vinnig terug te keer.

Vir gesoute Laevelders, Lynette en Mike Spencer, het ‘n beplande vakansie na Nieu-Seeland in Februarie in ‘n verlengde verblyf ontaard.

Die welbekende paartjie se lewens is omver gegooi nadat wêreldwye inperkingsregulasies as gevolg van die coronaviruspandemie ingestel is. Lynette het vertel dat die vakansie aanvanklik beplan is vir vyf weke, wat later verleng is na sewe maande.

Vir die Spencers was hierdie tydperk vol twyfel en onsekerheid.

LEES OOK: Dogtertjie van Malalane skenk dierekos aan Barberton DBV vir haar verjaarsdag

Sy het gesê: “Ek dink niemand het werklik die omvang van die pandemie se invloed besef voor ons nie pens en pootjies in die dilemma beland het nie. Wie sou ooit kon dink dat die opwinding van ‘n oorsese vakansie onvoorsiens verleng sou word sonder dat jy daarvoor gevra of dit beplan het?”

Die coronavirus het elke hoek van die wêreld geraak en min is ongeskonde gelaat. In ‘n vroeër uitgawe het Laevelder berig hoe omstandighede al hoe moeiliker vir die Spencers geword het omdat hulle vas in ‘n vreemde land was en onseker was oor hul werk en lewe in Suid Afrika.

“Daagliks het ons gehoor van mense wat siek word, doodgaan, werk verloor, in lughawens en onder haglike omstandighede in lande gestrand is, chroniese medikasie wat opraak, ouers wat van kinders geskei is. Daar was geen einde aan die lang lys van teëspoed nie,” het sy voortgegaan.

Lynette en Mike Spencer.

LEES OOK: Familie neem afskeid van geliefde Laevelder

Die alledaagse verantwoordelikhede soos mediesefondsbetalings, versekering, huur en ander maandelikse paaimente wat moet betaal word, het groot kommer gewek.

“As jy oorsee gaan, val geld nie sommer uit die lug nie en ‘n mens moet deeglik beplan en begroot vir alles wat jy wil doen en sien. Die rand se waarde is ook sleg in vergelyking met die Nieu-Seelandse dollar en alles wat jy koop, is drie keer duurder as jy die prys na rande omreken.”

Anders as baie van hul landgenote wat in dieselfde bootjie was, is die paartjie ondersteun deur baie mense wat uitgereik het om hulle te help.

LEES OOK: Wêreld-onderwysersdag: Oud-Nellie Wessel Pretorius dra ‘n lofgedig op

“Ons het ‘n dak oor ons kop gehad, geld om kos te koop is weekliks aan ons gegee, en ons het ‘n voertuig gehad waarin ons kon rondry,” het Lynette voortgegaan.

Na al hul probleme was daar uiteindelik lig aan die einde van die tonnel. Wat gevolg het, was ‘n weerspieëling van hoe ver Suid Afrikaners en veral Laevelders sou gaan om uit te reik na een van hul eie.

“Na aanleiding van versoeke om hulp met ‘n artikel wat in Africa in Touch News, Laevelder en op sosiale media verskyn het, het Marlene Wille ‘n nota op ons Facebookgroep geplaas om te hoor of daar nie lede is wat kan help om ons in Suid-Afrika terug te kry nie.

LEES OOK: IN PHOTOS: Steiltes Night Market back in business

“In daardie stadium het ons steeds gewag vir terugbetaling van ons Qantasvliegtuigkaartjies en het ons met Singaporekaartjies gesit wat moontlik eers in Desember gebruik sou kon word.”

Lynette se skoolmaats van Hoërskool Nelspruit van 1977, het gou aan die werk gespring en kon die Spencers finansieel help om vinnig terug te keer.

“Ek en my man was stomgeslaan want binne drie weke is die R40 000-merk verbygesteek. Toe daar dus weer ‘n vlug vir 16 September deur Qatar aangekondig is, kon ek nuwe kaartjies teen R49 230 vir ons twee koop en kon ons uiteindelik terugvlieg SA toe.

LEES OOK: FOTOS: Mnr. en Mej. Bergvlam gekroon tydens glansgeleentheid

“Kyk, ek het altyd geweet ons matriekgroep is ‘n besonderse groep. Noue bande is reeds tydens ons skooldae gesmee en dit het net hegter geword na ons skool verlaat het.

“Ons kom steeds ten minste een keer per jaar bymekaar, of ons nou vyf of 50 is. Niks kon my egter voorberei vir dit wat hulle bereid was om vir ons te doen nie.”

Hoewel die Spencers nie almal persoonlik kan bedank nie, het sy verder gesê dat hierdie ervaring hulle met nuwe oë na die wêreld laat kyk.

LEES OOK: Helpende Hand werf 40 000 ondersteuners

“My vriende laat my, my kop in skaamte sak. Ek is vir seker ‘n nuwe mens wat met nuwe oë na die wêreld om my kyk. Julle onbaatsugtige liefde en omgee sal ek nooit vergeet nie.

“God het ons nie verlaat nie, Hy het ons net ‘n kans gegee om stil te raak en opnuut te besef Hy ís in beheer,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button