Nelspruit Rugbyklub se eerste 95 jaar
In sy 95ste jaar en hier om te bly - so sê die voorsitter van Nelspruit Rugbyklub (NRK), Herklaas du Preez.

Dit is ‘n luisterryke instelling wat sedert 1952 die huidige klubveld en geriewe ontwikkel het op grond wat aan hulle toegesê is, en hulle beplan nie om in die afsienbare tyd elders heen te skuif nie.
Du Preez is reeds 55 jaar by die klub betrokke en het net na matriek in 1966 aangesluit. Met die NRK se stigting in 1925 was die klubveld waar Hoërskool Nelspruit vandag sy A-veld het.

Met die hulp van boere en plaaslike sakeondernemings is hier aanvanklik ‘n pawiljoen met kleedkamers opgerig. Dit is hier waar NKW al sy tuiswedstryde vir 26 jaar gespeel het. Toe die veld en geriewe later aan die skool oorgedra is, is die klub vergoed met die huidige veld wat uit eie fondse ontwikkel moes word en geriewe moes kry.

In 1965 kon NRK by die stadsraad, die Laeveld Sub-unie en by Volkskas geld leen om die huidige pawiljoen en badkamers met kleedkamers te bou. Skenkings van boere en besighede het die bou van ‘n onthaalsaal en die spreiligte moontlik gemaak.
Teen 1985 is alle lenings ten volle terugbetaal en teen 1989 was die gronde só verbeter: nuwe spreiligte, ‘n dak op die pawiljoen, nuwe toilette en ‘n onderdakbraai-area. Die bekende Klub 100-onthaal-area was gereed en die kantoor gebou. Daar was ‘n netjiese teerblad vir die parkeerterrein en twee groot kleedkamers is opgerig.
Die terrein was ten volle omhein en daar was ‘n kamer vir die opsigter, ‘n stoorkamer en motorhuis, ‘n telbord en ‘n netjiese ingangshek. In 1984 is die B-veld oorgeplant. SARVU het gesorg vir nuwe spreiligte en besproeiing. Die bestuur kan ook met trots sê dat die klub sy geriewe ten volle self onderhou.
Die koste van toerusting soos ‘n trekker, grassnyers asook die onderhoud van die geboue was vir NRK se eie rekening. Die klubkleure was aanvanklik groen met ‘n enkel wit streep om die middel, saam met wit broeke. In die vroeë sewentigs, met die registrasie van die kleure en die koedoekop as klubwapen by die Suid-Afrikaanse Buro vir Heraldiek, is bepaal dat daar reeds ‘n klub met hierdie kleure bestaan en die ou goue trui met sy vlootblou kraag en moue is geregistreer. Die koedoe-embleem het ‘n afbeelding van ‘n rugbybal onder by gekry. Hierdie kleurkombinasie is egter met die jare aangepas.
Toe Nelspruit se eerste vyftienman 95 jaar gelede op die veld gedraf het, het Barberton en Pelgrimsrus saam met ‘n hele paar klubs op die Hoëveld reeds bestaan. Ook ouer was LVCC, maar die span het in 1999 ontbind. Kort op die hakke was Komatipoort en Witrivier in 1928, en later Malalane in 1967. Hierna het Ngodwana, Hennie Lootspark, Landboukollege en Riverside gevolg. Nog ‘n ander hoogtepunt uit die verlede was 1926 tot 1928, toe Nelspruit die wenners was van die Laeveld-kompetisie.
Die ander spanne wat destyds deelgeneem het was Barberton, Schagen, Witrivier, Lourenço Marques, Belfast en Pelgrimsrus, wat Sabie en Graskop ingesluit het. Een van die mees merk-waardige spelers wat ooit vir die klub uitgedraf het is Rudi “Vleis” Visagie. Sedert hy ophou speel het, bly hy steeds die swaarste man wat ooit vir die groen-en-goud uitgedraf het.
Nuwe spelers en beamptes van die Laeveld word verwelkom om by die klub aan te sluit. Die mooi terrein naby die stadskern is altyd ‘n welkome gesig vir rugbyliefhebbers en ‘n baken in Mbombela. Die klubbestuur is vroeg Januarie reeds op sy pos wanneer die bedrywighede hier voortgesit word.
Kontak inligting
Vir navrae skakel Du Preez by 083-228-9314.

