Veertig jaar se bouhandel in die Laeveld
BUCO Nelspruit is al 40 jaar lank sinoniem met bouhandel in die Laeveld. Kyk ‘n mens vandag na die eerste geboutjie in Andersonstraat in Mbombela se binnestad oorkant die ou Plaza-rolprentteater, waar daar in 1980 die eerste keer sake gedoen is, is dit moeilik om te sien hoeveel intussen gebeur het.

Met goeie tydsberekening kon die onderneming bydra tot die voorsiening aan die groeiende bouwarebehoefte van ‘n jong provinsiale hoofstad en die geweldige ontwikkeling wat sedert 1994 hier plaasgevind het. Toe Calie Olivier, toe nog ‘n jongman in die oliebedryf, destyds by Louw Duvenhage se onderneming, Nelspruit Verf, aangesluit het, was dit die begin van een van die Laeveld se grootste suksesverhale.

Met Olivier aan boord is daar vroeg begin om ook na die verskaffing van algemene boumateriale oor te gaan. Die volgende stap was die aanvanklike naamverandering na Laeveld Bouhandelaars. Hierna moes die onderneming na ‘n meer ruim perseel in Bellstraat skuif. Skaars twee jaar later in 1982 breek ‘n nuwe hoofstuk aan toe Kobus Boshoff by die span aansluit en later Duvenhage se aandele uitkoop. Reeds teen 1988 moes daar weer ‘n plan gemaak word vir meer plek en is die huidige perseel in Ou Pretoria-weg aangekoop en die eerste fase van ‘n modern, doelgerigte gebou opgerig.

Op hierdie perseel is daar verskeie kere aangebou en verbeter om met die groei van die onderneming tred te hou. In 1995 is ‘n bestaande fabriek vir dakkappe oorgekoop en verskuif na ‘n doelgerigte gebou wat ook op die perseel opgerig is. Skaars twee jaar later in 1997 is die destydse plaaslike dakplaatonderneming, JJJ Roof Sheeting, ook bygevoeg en hier gevestig. Dit was ook die jaar toe die tak in Hazyview geopen is. Ook in 1997 het Laeveld Bouhandelaars die onderneming ‘n stap verder geneem en aangesluit by die genoteerde Iliad-groep. Hierna het meer takke gevolg: Witrivier in 2000, Malalane in 2001, Hoedspruit in 2006 en Bosbokrand in 2007.
Die huidige gebou is gedurende 2006 en 2007 vergroot tot 14 000 m² op ‘n perseel van 32 000 m². Met die vraag en tendens na nuwe produkreekse is die gewilde veldskoen, khaki-kleredrag asook dekor by die voorraad gevoeg. Na die houtstoor op 19 September 2017 tot op die grond gebrand het, het hulle ‘n massiewe uitdaging in ‘n geleentheid omskep om “Bulk Stoor 2” in Julie 2018 te open.
Hulle het verder ontwikkel en uitgebrei met die toevoeging van die dakkapfabriek – ‘n addisionele 2 400 m² teenaan Plankiestraat. In 2019 vergroot hulle die perseel met ‘n ekstra 5 000 m² nadat hulle die steen-erf teen die Witrivier-pad voltooi het. Dit bring die aantal oppervlak van die BUCO-perseel tot 3,4 ha. As dié syfer jou beïndruk, sal die 136 jaar gesamentlike diensjare van die ses lede van die bestuurspan jou aangenaam verras.
