Hoop onderskraag gesin ten tye van terugslae
Net toe dit lyk of dinge goed gaan met die Erasmusgesin, tref Covid-19 hulle. Al drie, ma, pa en MJ, is positief daarvoor getoets.

Nog voordat baba MJ Erasmus gebore is, is hy met verskeie komplikasies gediagnoseer. Na sy geboorte het dié net meer begin word.
“Met behulp van die gemeenskap kon ons dit regkry om R40 000 in te samel, sodat ons genetiese toeste kon laat doen om presies vas te stel wat fout is met MJ,” vertel MJ se ma, Adri.
Op 19 November het Adri, pa Marius en baba MJ dr. Lindsay Lambie besoek, ‘n kliniese genetikus in Centurion. Hulle het al drie bloed laat trek en die bloedmonsters is Duitsland toe gestuur vir ontleding.
Twee-en-twintig dae later ontvang die Erasmusse ‘n oproep van Lambie af om te sê die uitslae is terug en dat sy hulle wil spreek.
“Alle moontlike gedagtes dwaal deur ‘n mens se kop. Jy moet positief bly of die ergste verwag. Die nuus wat volg sou ‘n bitter pil wees om te sluk, maar ten minste sou ons wanneer ons Liewe Vader sy engel kom haal, die oorsaak weet,” vertel Adri.
Volgens die genetiese toetse het MJ se CLCN4-gene nie ontwikkel nie. Dit beteken dat die mutasiekanaal wat proteïene afskei nie ontwikkel het nie, dus kan en sal sy brein ook nie ontwikkel nie. MJ sal vir so lank hy lewe die brein van ‘n pasgebore babatjie hê.
LEES OOK: Laat jou stem gehoor word met hierdie unieke talentsoektog
“Intussen was ons weer in Kloof Hospitaal gewees waar die oor-neus-en-keel-spesialis MJ met ‘n kamera ondersoek het om te kyk of hy sterk genoeg sal wees om narkose te kry, sodat hulle ‘n MIC PEG-voedingsbuis in sy maag kon sit,” sê sy.
Tydens sy ondersoek is daar bevind dat MJ nie sterk genoeg vir narkose is nie. Nie net is sy longe onderontwikkel nie, maar MJ se epiglottis is so geswel dat, sou doktors dit regkry om die ET-buis in te kry, en iets loop skeef en hy moet geïntubeer word, hulle hom nie weer van die masjiene sou kon afhaal nie.
“Nie ons of die doktors by Kloof is bereid om daardie kans te vat nie,” sê Adri.
Desember was ‘n groot uitdaging vir Adri en Marius.
“Boetie wou nie meer bottel drink nie – dit is seer as hy sluk. Ons het hom probeer voer met ‘n spuit, maar hy het so agteruitgegaan in ‘n kwessie van 14 dae, dat ons saam met dr. Pierre Taljaard besluit het om die voedingsbuis deur die neus te sit. Alhoewel die buis net tydelik is, het ons dit reggekry om hom amper weer na sy ou self te laat lyk.”
Net toe dit lyk of dinge goed gaan met die Erasmusgesin, tref Covid-19 hulle. Al drie, ma, pa en MJ, is positief daarvoor getoets.
“Daar is niks wat ons vir MJ kon gee nie, behalwe om hom te stoom. Hy sterk goed aan en elke dag word hy ‘n bietjie beter,” vertel sy.
“Ek kan net op my knieë gaan en die Here bedank vir elke dag wat Hy MJ aan ons leen. Ja, elke dag het sy eie uitdagings, maar ons pak dit aan met die genade van bo en bly glo vir ‘n wonderwerk.”
LEES OOK: Gebede gevra vir pastoor in intensiewe sorgeenheid
