Mbombela kuier lekker in Afrikaans
Mbombela se Dameskring het saam met inwoners Afrikaans gevier met 'n aand van lekker kos en kuier.
Die Dameskring se Mbombela-tak het op 19 September hul Omarm Afrikaans-funksie gehou met Hoërskool Nelspruit wat as gasheer opgetree het.
“Omarm”is die termyntema vir 2027 en beeld die vele fasette van vrouwees uit asook die fondasie van die Dameskring – geloof, mekaar bystaan en familie.
Die gesellige aand het begin met ‘n kuier rondom die kostafels vol geliefde Suid-Afrikaanse lekkernye soos frikkadelle, biltonghappies en koeksisters.
Die talentvolle musikante van Cork & Chords het verder bygedra tot die vrolike atmosfeer met instrumentale weergawes van gewilde Afrikaanse treffers.
ALSO READ: The Kruger Lowveld: A heritage written in the landscape
Bekende gassprekers bied waardevolle inligting

Bertus Steyn, die funksieleier, het almal se taalkennis getoets met ‘n paar idiome en woorde uit die argief.
Die DK Eerstelingtak het die voorreg gehad om Sandra Jacobs as die Vrou van Formaat aan te wys.
Jacobs is onder andere bekend vir haar betrokkenheid by Innibos en haar musikale talente.
Prof. Jurie van Vuuren van die Universiteit van Pretoria het die gehoor daaraan herinner dat die gemeenskap se entrepreneurs die helde is waarsonder Suid-Afrika se ekonomie nie staande kan bly nie.
Daarna het die hoofspreker van die aand, Dawie Roodt, die geskiedenis van die totstandkoming van geld gedeel en ook die huidige ekonomiese neigings en verwagtinge uitgelê.
ALSO READ: Lowveld Country Club celebrates overhaul at gala evening
Projek-uitbreidings

Die uitbreiding van die Dameskring se Waardeprojek is ook durende die aand bekendgestel.
Die handleiding, wat as gids dien vir die Suid-Afrikaanse jeug om groot te word met vaste beginsels, is beskikbaar in Afrikaans en Engels en is in die proses om vertaal te word in nog ‘n amptelike landstaal.