Hoërskool Bergvlam se matriekgroep van 2020 bou voort op hul uitstekende matriekuitslae
Hoërskool Bergvlam, 'n multikulturele dubbelmediumhoërskool in Mbombela, bou voort op die uitstekende matriekuitslae van die Vlammies met hul individuele prestasies en skitterende slaagsyfer. Met puik uitslae is hulle onder die top skole in Mpumalanga.

Met trots gee hulle erkenning aan hul top matrieks dié se besonderse individuele prestasies.
Erize de Lange en Rochelle Harmse het ses onderskeidings elk; Refiloe Mobeng, Sufiyan Patel, Adan Larya en Ariana Vosloo het vyf onderskeidings elk.

Menigte matrieks spog ook met een en twee onderskeidings.

“Ons is ook trots daarop dat 71 % van ons leerders geslaag het met universiteitstoelating,” sê die skoolhoof, Deon Visser.

Die Bergvlam-gemeenskap is voorwaar trots op al sy matriekleerders se goeie uitslae. ‘n Hele aantal leerders het onder moeilike persoonlike omstandighede hul finale eksamen aangepak. As gevolg van hul deursettingsvermoë het hulle nooit moed opgegee nie, en die vrugte daarvan gepluk deur deurentyd hard te werk en gefokus te bly.

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se matriekklas van 2020 spog met 100% slaagsyfer

“Ons wens hulle voorspoed toe vir die toekoms en vertrou dat hulle met die lewensvaardighede wat hul by Vlammies geleer het, almal sukses sal bereik in hul lewenstog vorentoe. ‘n Spesiale dank aan al die onderwysers wat ‘n aandeel aan ons matrieks se goeie akademiese uitslae gehad het, asook hul toewyding in die opvoeding en vorming van elke gr. 12-leerder.

LEES OOK: Nuwe boek neem 26 Laevelders se geestelike lewensverhale saam

Vlammies Brand met Trots! Aan God al die eer!” sê Visser.

Hoërskool Bergvlam spog met ‘n 98,3 %-slaagsyfer.





