Laeveldse Wandelklub onthou hul stigterlid
Eugene Human, gebore op 6 Junie 1944, het meer as 50 jaar gelede die Laeveldse Wandeklub/Lowveld Ramblers help stig.

Die oorle Eugene Human, of Gene soos sy vriende hom genoem het, was ‘n welbekende in die Laeveld-omgewing en het gereeld in die Laevelder verskyn met al sy stapavonture.

Lede van die Laeveldse wandeklub was bewoë toe Human op 9 Februarie 2021 oorlede is na hy vir ‘n tydjie in die hospitaal opgeneem is as gevolg van Covid-19.

Hy laat sy seuns André en Heinrich en sy vrou Poppie Human na. Poppie het namens die familie oor sy dood gesels. “Te midde van al die pyn en hartseer en fisiese lyding en groot verlies wat Covid oor ons gebring het, kan ek getuig dat sonder God se liefde, ons nie hierdeur kon kom nie. Hy gee genade genoeg vir vandag.”
LEES OOK: Huldeblyke stroom in vir ontslape oud-minister

Poppie vertel graag hoe sy en Gene by die wandelklub meer as 50 jaar gelede betrokke geraak het. “Ons was maar altyd mal oor die natuur. Voor ons troue nog het ons Amajuba ‘n paar keer uitgeklim en as ons êrens heen gery het, maar altyd paadjies gaan verken.“


“In Nelspruit het ons paaie gekruis met Frans Viljoen en ander ywerige stappers soos Elise de Villiers, Piet van Wyk, Corrie Scheepers en Wessel Odendaal. Na baie gesels in die rigting van ‘n wandelklub stig het dit toe gebeur in 1972. Dit wat begin het met ‘n stap na grotte in Kaapsehoop het gegroei in ‘n aktiewe klub,” sê Poppie.

“Die wandelkub het ‘n groot rol in Human se lewe bly speel selfs in sy laaste dae. “Die wandeklub se leuse is dum spiro spero – waar daar asem is, is daar hoop. Ons het dit menige kere oor Eugene gesê terwyl hy baie siek in die hospitaal was,” deel Poppie.

Christabell Cilliers ‘n langstaande lid wie al 39 jaar aan die klub behoort en nog steeds ‘n pad saam met die familie loop. “Ek onthou veral Gene se goeie sin vir humor en hoe dit mens onkant kon vang tydens ‘n stap.”

Cilliers onthou haar vriend met die brief:
Liewe Gene, jou stil, sterk krag het my in ons stapjare soveel kere deur die drif gedra – of liewer oor rotse en steil afdraendes en ook ‘n baie steil opdraende daar by Suikerbosfontein. Sportjie vir sportjie, voetjie vir voetjie het jy Poppie se voete een vir een opgetel tot op die volgende sport.
Só het ons die stappaaie tot op die eindpunt gemaak.
– Christabell Cilliers
LEES OOK: Kameraadskap in die natuur saam met die Lowveld Ramblers
Die familie was aangeraak oor al die boodskappe van ondersteuning. “Ons as gesin wil uit ons hart net sê aan ons baie kennise van jare, dankie vir al julle gebede, boodskappe, telefoonoproepe en hulp. Ook vir die pad wat julle saam met ons geloop het en ook nou ons net nie los nie. Ons het groot waardering vir elken van julle wat so spesiaal is vir ons. Ons wil baie graag Eugene se lewe vier met ‘n diens in die kerk as die Covid-19-gevaar gewyk het en sal almal vroegtydig laat weet oor die datum,” sê Poppie.
Fotos: Heinrich Human
