Local newsNews

Skaars orgideë blom die eerste keer in SA

Die eerste Afri Orchids-opedag hierdie jaar is onlangs gehou. Net betyds vir dié geleentheid het die bulbophyllum beccarii vir die eerste keer geblom sedert die plant aangeskaf is.

Hierdie gebeurtenis is ‘n eerste vir Suid-Afrika, volgens Jolisa Grobler, die eienaar van Afri Orchids.

Dié orgidee is inheems tot Borneo en sy blare vang ou blare op wat dan oor tyd ontbind. Dit gee dan voedsame stowwe af wat die plant help om te groei. Die blare kan tot 60 cm by 50 cm elk meet. Die orgidee se bloeiseltjies ruik soos vrot vis, wat vlieë aantrek en die blomme dan bestuif.

“Ons groei hierdie plant al vanaf 2015 en dit is gemonteer op ‘n lang stuk kurk. Die minimumtemperatuur is 10 grade Celsius en die maksimum in somertyd is 33. Dit kry daagliks water en kunsmis, en die humiditeit word bo 60 persent gehou regdeur die jaar,” vertel Grobler.

Die opedae word gehou sodat mense meer kan leer oor orgideë en skaarser soorte kan sien en koop, en sodoende word die passie daarvoor uitgebrei, volgens Grobler.

LEES OOK: Nuwe boek neem 26 Laevelders se geestelike lewensverhale saam

“Daar bestaan ‘n idee dat dit baie moeilike plante is om aan die lewe te hou en dat die enigste soorte beskikbaar dié is by supermarkte. Ons probeer om almal te leer dat daar duisende soorte is en dat dit baie maklik in hul tuine sal aard. Dit gee baie mense ook die geleentheid om buite te kom en saam met vriende in die natuur te kuier,” sê sy.

Afri Orchids probeer tussen vier en vyf opedae ‘n jaar in te pas. Dié datums word op hulle sosiale media geadverteer.

“Ons is spesiemense en versamel al vir 40 jaar skaars soorte van regoor die wêreld. Daar is heelparty spesies wat ons seker is die enigstes in Suid-Afrika is. Ons probeer ook om saad te kry van baie skaars Afrika- en Madagaskarspesies en dit dan te vermeerder vir die toekoms. Ons het onlangs baie sukses gehad met cyrtorchis crassifolia.”

Grobler gee die volgende wenke vir orgideëliefhebbers

• Begin deur die regte orgideë te koop. Sekere soorte aard beter in jou tuin en as jy ‘n sterk, gevestigde plant koop is jou kans op sukses baie groter. Laelia anceps is ‘n goeie voorbeeld.

• Water is belangrik. Plante wil nooit in water staan nie, maar het gereeld water nodig. Die plante in potte moet uitdroog voordat jy dit weer water gee. ‘n Plant wat gemonteer is of in ‘n boom is, kan nooit te veel water kry nie.

• Gee gereeld voeding teen halfsterkte. Plante groei en blom definitief beter met ‘n goeie voedingsplan.

LEES OOK: Koel af met ‘n koue happie

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button