NHS hou gr. 8-konsert uit die boonste rakke
Vir Hoërskool Nelspruit se nuweling het die eerste kwartaal op ’n drafstap begin. Die graadagts het dadelik met oriëntering begin.

Hulle het gou geleer wie hulle nuwe onderwysers is, waar hul klaskamers is, die skoollied leer sing en ook meer oor NHS se trotse tradisies, waardes en kultuur geleer.
Dan was daar ook die gr. 8-konsert. Smiddae is daar hard geoefen aan Nelmanji. Die spogproduksie is Donderdag 11 Maart regstreeks op DigiTV uitgesaai en het meer as 1 600 kykbeurte geniet.

Die hoofkarakters was ’n spieëlbeeld van die karakters uit die bekende rolprent Jumanji. Pedrie Claassens as Nigel, Divan de Kock as dr. Brawesteen, Nina Prinsloo as Robyn Rondehuis, Jan Malan as Batricia van Brakpan en Siyabonga Lubisi as Finbar se vertolkings was uit die boonste rakke.

Die kleurvolle en kreatiewe kostuums, skerp sêgoed en choreografie het tot die sukses van die vertoning bygedra.
Na afloop van die konsert is die gr. 8-vaandel aan die klasverteenwoordigers, Ema Snyman en Gert Cloete, oorhandig. Die gr. 8-credo is voorgehou en met hierdie seremonie is die nuwelinge as volwaardige Nellies verwelkom.

Hierdie vertoning is gestoor op die NellieTV-kanaal.
Gaan loer gerus na hierdie konsert: Deel 1 en Deel 2
Die organiseerder van die gr. 8-konsert is Kriekie Bekker. Dit was die 15de konsert wat deur haar bekwame leiding opgevoer is.

LEES OOK: Nelspruit Gemeenskapsforum beoefen nuwe benadering tot liefdadigheid
Hou die skoolmedia dop vir ’n volgende artikel waarin Bekker haar suksesverhaal van die afgelope 15 jaar deel.
“Hierdie geleentheid kom net een keer in ’n skoolloopbaan. Baie dankie aan die BK en onderwysers vir hulle klipharde werk, ywer en toewyding om van die amper-Nellies Nellies te maak. Baie geluk, graadagts!” het die skoolhoof, Johan Hattingh, gesê.
