VLU hou jaarvergadering
Die tien takke van die Vroue Landbou-unie (VLU) in die Malieveld-streek het op 4 April by die NG Gemeente Witrivier bymekaargekom vir hulle jaarvergadering.

Die geleentheid word een keer ‘n jaar gehou om administratiewe sake af te handel, asook om vir die lede die geleentheid te bied vir samesyn.
Kokkedoor alumnus Pieter Malan, meer bekend as PappaChef, en Lientjie Wessels het ‘n kosdemonstrasie gegee. Malan vertel dat hulle tydens hulle seisoen van Kokkedoor ‘n skoukonfyt moes maak. Toe Malan nie beïndruk met Wessels se konfyt was nie, sê sy vir hom: “Lyk ek vir jou soos ‘n VLU-tannie?”
Sanger Henry John-Williams, wat deur Malieveld aangewys is as hul kunstenaar van die jaar, het spesiaal van die Oos-Kaap deurgevlieg om vir die VLU-dames te sing.
ALSO READ: Laeveld-liefde bly maar die beste
Die jaarvergadering dien ook as prysuitdeling vir die streekskompetisie. Die takke neem deel in verskeie kategorieë, van beste breiwerk tot beste skets. Elke kategorie het vaste riglyne en temas wat gevolg moet word. Punte word dan toegedien aan die takke wat die beste vaar in elke kategorie. Die tak met die meeste punte behaal eerste plek.
Vanjaar het Barberton met 6 578 punte gewen. Lebombo Valley was tweede, gevolg deur Querida.
Lidmaatskap-kentekens is oorhandig aan lede wat al vir vyf tot 10 jaar by die VLU betrokke is, en spesiale kentekens is ook oorhandig aan lede van meer as 20 jaar.
Cisca Trollip, die Loerie-takvoorsitter, volg Retha Janse van Rensburg op as visevoorsitter.
