Lydenburg: ‘n Ryke sendinggeskiedenis
Gedurende die 19de eeu was die dorp die smeltkroes van heelwat sendingbedrywighede van veral die Berlynse Sendinggenootskap, wat hier en verder noord onder die Pedi-gemeenskap doenig was.
LYDENBURG – Hierdie het nie sonder heelwat teenkanting en konflik verloop nie, wat die ou Voortekkerdorp ook dikwels die veilge hawe vir sendelinge en hulle gekerstende volgelinge gemaak het.
Oor die jare het ek dikwels die spoor gevat en hieroor in ons koerant geskryf. Hierdie reeksie oor die volgende week of vier is ‘n saamgestelde kykie na hierdie interessante gebeure in ons streek. Dit is ook spore wat later, as gevolg van die politieke beskouings van latere tye, uitgevee is.
Toe ek al so 12 jaar gelede gereeld op Lydenburg begin sake doen het, was dit veral oom Hansie Meyer wat my met sy kennis van die plaaslike geskiedenis en uitgebreide boekery begin aanvul het. Op soek na die Berlynse sendinstasie by Lydenburg.
Vir my is daar min dinge so lekker as om in ‘n plek se geskiedenis te gaan snuffel en dan op feite en plekke af te kom. Nóg meer as jy dit doen met iemand wat weet en jou geesdrif deel, soos oorlede oom Hansie. Ek het hom destyds uitgevra oor waar die ou Berlynse sendingstasie was. Nee, daar is nou niks van oor nie, het hy my teleurstelling help vermy, maar een wintermôre met ons gebruiklike oggendkoffie by my op kantoor, neul ek weer, en hy sê laat ons ry. Hy het weer gewaarsku dat daar nie eintlik veel meer te sien is nie.
Verby Skhila wys hy my ‘n steenpaadjie verby die ou baksteenfabriek se kleigroewe deur die opslag doringbos tot waar ek die eerste bouval sien en eers van naby wil gaan kyk. Die kleipleister is al af en ontbloot die klipwerk. Dis duidelik ‘n ou Voortrekkerwoonhuis. Later is daar aangebou en met die koms van die sendelinge is dit deur die volgelinge bewoon.
LEES OOK: Oud-hotelier kom tot sterwe
Dit beaam oom Ben Twala, wat ons ook die oggend hier raakloop. Hy het hier op die sendingstasie grootgeword. Hy vertel ons wie later in die huis gewoon het. Ben se eie pa was ‘n grafsteenmaker. Dit was later ook sy en sy broer se nering. Hier is volop seepsteenbanke. Vroeër het hulle nog met die hand gesaag, maar deesdae is daar masjiene. Ben-hulle was van hoofman Manok se mense.

Die Berlynse Sendinggenootskap was sedert 1860 hier in die Ou Transvaal doenig met sendingwerk. Baanbrekers hier was Grützer, Nachtigal en Merensky, die vader van die latere bekende geoloog. Die bedoelde sendingveld was Sekhukhuniland. Die Pedi-opperhoof, Sekhukuni, met sy hoofstad, Dsjate in die hart van die Leoluberge, was nie ‘n maklike gasheer nie. Daarom het Merensky met enkele volgelinge onder die Bapedi en Ndebele hom by Botshabelo by Middelburg gevestig.
Nachtigal het met ‘n aantal bekeerlinge hier na Lydenburg gekom. In 1867 onderneem die direkteur van die Berlynse Sendingenootskap, dr. Theodor Wangeman, ‘n reis deur die gebied en besluit dat ‘n permanente sendinstasie hier by Lydenburg gevestig moet word.
Eers is grond aan die onderent van die dorp aangekoop. Daarna die plaas van ene Badenhorts, ‘n entjie weg noord van die dorp. In die Geskiedenisatlas van Suid-Afrika: Die vier noordelike provinsies word die plaas as Nooitgedacht aangedui.
LEES OOK: Skaars poskaart van Komatipoort kom in Nederland te voorskyn
Nachtigal is later vervang met Düring en daarna met Bauling, wie se graf vandag nog hier by die oorblyfsels van die sendingstasie te sien is. Bauling se seuns het ook later aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem en sy nageslag was tot in die sestiger- of sewentigerjare nog hier op Lydenburg. Eerwaarde Christian Bauling het in 1875 die werk in Lydenburg oorgeneem tot en met sy dood in 1912. Dis dan ook Bauling wat die sendingstasie gebou het.
Vandag is die kerkie gesloop. Dit was egter die spieëlbeeld van die Anglikaanse St John’s-kerkie wat nog op Lydenburg te sien is. Eerwaarde John Thornton, die destydse Anglikaanse prediker, en Bauling het mekaar gereeld bygestaan met bouwerk. As Berlynse sendeling het Bauling ook opleiding in medisyne gehad en is hy wyd en syd besoek deur krankes.

Gedurende die Anglo-Boereoorlog het hy en sy vrou in die konsentrasiekamp op Balmoral beland en later in Pretoria. Met Bauling se dood in 1912 laat hy ‘n gemeente van 3 000 siele agter. Ná Bauling volg Schwellnus, wat ook bekendheid verwerf het as volkekundige, opgevolg deur eerwaarde Eberhardt. Oom Hansie onthou ook vir missionaris Eduard Schultz. Buiten die sendingstasie op Nooitgedacht was daar nog twee plase waar swartes ‘n kommunale bestaan gevoer het op Lydenburg, Boomplaats en Apiesdoorndraai.
Volgens Stephan Schirmer in sy hoofstuk, “Enterprise and exploitation in the 20th century”, in Peter Delius se boek Mpumalanga, History and Heritage, was die gemeenskapsplaas Boomplaats oorkant die Dorpsrivier wes van die sendingstasie ‘n modelboerdery.
Op nog ‘n plaas, Apiesdoorndraai, het die selfaangestelde hoofman, Jacob Manok, ‘n Shangaan, en later sy agt seuns glo ook met groot sukses geboer. Manok se graf is een van dié wat nog by Nooitgedacht naby die ou sendingstasie te siene is.
Schirmer vertel dat Manok die plaas in 1902 bekom het en in 1918 ‘n rekord van 1 000 sakke koring in een seisoen geoes het! En dan raak Schirmer die pad byster. Hy sê dat Manok so ‘n goeie boer was dat hy hier in die 1940’s die voorsitter van die plaaslike landbou-unie was. Dié kan ‘n mens seker ook gaan opkyk in Lydenburg se Landbouvereniging se annale, maar Manok se grafsteen lees dat hy is reeds in 1920 dood is.
Wat Nooitgedacht, Boomplaats en Apiesdoorn wel gekenmerk het, is die stelsel van kanale wat water uit die Dorpsrivier na die boorde, tuine en lande uitgekeer het. Hiervan is nou nog te sien tussen die enkele oorblywende vrugtebome naby die plek waar die kerk, skool en woonhuise van die sendingstasie vroeër gestaan het.
Die inwoners van die plase het heeltemal met by die sendingstasie geïntegreer, soverre dit die kerk en skool aanbetref. Later blyk dit tog of die plase en sendingstasie ietwat van ‘n ongewenste, sogenaamde “swart kol” geword het vir die destydse regering met sy tuislandbeleid.

Ben vertel dat die sending in 1964 finaal gestaak is. Dit was in die tyd van dr. Verwoerd met sy beleid van afsonderlike ontwikkeling en etniese tuislande. Die mense moes trek – nader aan die trustgebied wat later Lebowa sou word.
Op die kaart word ‘n plek naby Alverton en Bothashoek in die ou Lebowa steeds as “Manok” aangedui. Ben sê sy stat is nog daar by Alverton, maar hy is een van dié wat nou teruggekom het hierheen nadat die nasate van die ou inwoners weer hulle grondregte gekry het. Deesdae noem hulle die plek hier Genanestat. Dis vernoem na Simon Genane, die leier van die projek om die mense weer terug te bring.
LEES OOK: Vlooimark bekoor ieder en elk
Die Thaba Chweu Plaaslike Owerheid is ook al klaar besig met die aanlê van dienste. Ben sê hy het solank ook hier ‘n huis kom opsit. Vandag, meer as 50 jaar na die verskuiwing, is daar werklik maar weinig te sien. Alles is gesloop. Die missionarishuis is wel later in ‘n plaashuis omskep. Enkele geboue is as buitegeboue behou, maar die kerk het verdwyn.
JP Cilliers van die museum hier op Lydenburg sê hulle begin binnekort met opgrawings. Neem ook kennis dat hierdie artikel reeds 12 jaar gelede in 2009 geskryf is, en dat ek sedertdien nie weer terug is nie. Intussen is Mpumalanga Erfenis in die lewe geroep en het dit miskien tyd geword om weer hier met ‘n klompie medebelangstellendes besoek te bring.
Bronne
• Peter Delius & Michelle Hay, Mpumalanga: An illustrated history. Highveld Press, 2009.
• JS Berg (red.), Geskiedenisatlas van Suid-Afrika: Die vier noordelike provinsies, JL van Schaik.
• Peter Delius, Mpumalanga, History and Heritage, University of KwaZulu-Natal Press, 2007.
• Lydenburgse Eeufeesgedenkboek, Munisipaliteit van Lydenburg, 1950.
