Local newsNewsNews

Kosbare verhale oor oudleerders maak LHS se eeufeesviering meer spesiaal

“Ou liefde roes nooit” is ’n gesegde waarvan Jaco en Sus Swart steeds kan getuig.

Die storie van dié egpaar is spesiaal gebêre om te publiseer in oorleg met Hoërskool Lydenburg (LHS) se eeufees wat die komende naweek, 1 tot 3 Oktober, gevier word.
In 1953 was hulle tennismaats en het hulle later dubbelspelmaats geword op skool.

Hy was ’n st. 7-leerling aan LHS en sy ’n st. 5-leerling aan die Laerskool Lydenburg toe hulle ontmoet het. Vandag, drie dogters en 58 jaar se getroude lewe later, is hulle een van LHS se mooiste liefdesverhale.
Jaco en Sus het vroeër vanjaar hul 82ste en 80ste verjaarsdae saam met hul kinders en kleinkinders gevier.

Jaco en Sus Swart in ligte luim by ‘n padstal buite Ohrigstad.

Hul dogter, Eunice Avenant, het die volgende oor haar ouers se verhaal geskryf:
Hulle lewe saam strek vanaf Pretoria, eers as Tukkiestudente in onderskeidelik ingenieurswese en biblioteekkunde (1958-1961) en daarna as jong getroudes (1963-1972).
Daarna verhuis hulle na Nelspruit (1973- 1989) en toe na die plaas Moriah op die oewer van die Blyderivier naby Hoedspruit. Die Swart-familie het hierdie plaas in 1969 gekoop en Jaco en Sus woon en werk sedert 1990 daar.
Sedert die begin van Jaco se ingenieursloopbaan en later ook met die boerdery is Sus nog altyd deel van die onderneming. In 2000 raak hul dogter Susan en skoonseun Henri Kriek betrokke by die boerdery en tans hanteer die twee jongmense die praktiese aspekte daarvan.

Jaco het verskeie mylpale bereik in sy 60 jaar as siviele ingenieur.
Hy het die twee aluminiumbrûe by die Bourke’s Luck-kolkgate in die laat 1960’s ontwerp en was betrokke by die uitvoer van die hele bouprojek. Dit was wêreldwye baanbrekerswerk vir daardie tyd. Die projek moes die minimum impak op die omgewing maak.
Met die begin van die teerpadprojek in die Nasionale Krugerwildtuin (1965) is hy aangestel as padbou-ingenieur. Die geometriese standaarde, sandseëlryvlakke en roeteklassifikasies (H- en S-roetes) het uit sy voorstelle gespruit.
Hy was ook in die 1990’s die siviele ingenieur en dryfkrag agter die opgradering van die Blyderivierbesproeiingsgebied se grondkanaalstelsel na die moderne en uiters effektiewe geslote pypnetwerkstelsel.

LHS se eerste tennisspan in 1955 (Jaco en Sus Swart in agterste ry in die middel). Op die foto is ook mnr. Martinus van der Reyden, die tennisafrigter (Sus se pa) en langs hom is Elbie Brink (later die bekende skrywer Elsabe Steenberg).

Hierdie stelsel werk uitsluitlik onder gravitasie en is ontwerp om jaarliks 85 miljoen kubieke meter water te versprei deur ‘n 155 km lange pypnetwerk oor ‘n gebied van 460 vierkante kilometer.
Dit maak die lewering van besproeiingswater onder druk volgens seisoenale gewasbehoeftes moontlik. As gevolg hiervan is die besproeiers merendeels onafhanklik van Eskom-krag. Dié effektiewe verspreidingstelsel had wye uitbreiding van landbouaktiwiteite en werkskepping tot gevolg gehad.

Voort was hy ook in die 1970’s ’n pionier tafeldruifboer in die Noordelike Provinsie. Hy was betrokke by die eerste proewe van die nuwe rusbrekende middel, Dormex, op tafeldruiwe. Hierdeur is die basis vir hierdie praktyk gelê om suksesvolle tafeldruifverbouing in gebiede met matig tot warm winters moontlik te maak.
Vandag maak meer as 80% van die Suid-Afrikaanse tafeldruifbedryf steeds staat op hierdie tegniek en produk.

Info Blok:
• Op Donderdag 30 September verskyn die eeufeeskoerant van Hoërskool Lydenburg in Steelburger/Lydenburg Nuus. Maak seker om hierdie gedenkuitgawe te kry, wat ’n bylaag sal wees.

• On Thursday September 30, the centenary feature of Lydenburg High School will be included in Steelburger/Lydenburg News. Be sure to get this memorial edition that will be an insert.

Die program is more in die Steelburger/ Lydenburg Nuus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button