Local newsNews

Hoërskool hou eeufees op luissterryke wyse

Vir Hoërskool Lydenburg (LHS) se Eeufeesnaweek van 1 tot 3 Oktober, het honderde oudleerders en hul families op Lydenburg toegesak.

Met ’n passie vir “padlangs” loop, soos die skool se leuse onderskryf, het Ian Breitenbach, die adjunkhoof, se Fitbit hom ná die naweek in kennis gestel dat hy altesaam 43 000 tree, gelykstaande aan 35 km, op die skoolterrein afgelê het toe hy gesorg het dat alles oral seepglad verloop.

Soos die oudskoolhoof Thys Cronje gesê het: “Dit was ’n naweek vir die boeke.” Hy en sy vrou, Mart Cronje, het in Stilbaai gaan aftree, maar was baie opgewonde om weer met oudleerders en kollegas te kon kuier.

Michael van der Merwe, die skoolhoof, en sy vrou Anine het die staaltjies van Cronje se onderwysdae terdeë geniet.

Hulle het saam met die eeufeeskomitee gasheer vir die naweek gespeel. Selfs ’n donderstorm wat tydens Saterdagaand se kenmekaar op die dorp toegesak het, kon die geesdrif nie demp nie.

Dit het inteendeel vir baie meer kosbare herinneringe gesorg. Die naweek is afgeskop met piekniekbokse en ’n pragtige aandfunksie Vrydagaand in die skoolsaal. Saterdag was daar verskeie aktiwiteite soos ’n pretpark en waterglybane vir kinders, skooltoere en ’n gholfdag. Vir die pretpark alleen het 700 kinders opgedaag.

By die onderskeie markiestente op die rugbyveld het onder meer die 50-jaar reunie vir die 1971-matrikulante plaasgevind en die 30-jaar reunie vir die 1991-matrikulante. Die diens by die NG Moedergemeente op Sondag 3 Oktober was vir baie feesgangers die hoogtepunt van die naweek.

Ds. Liza Jansen, voltydse leeraar aan die Hervormde Kerk Witbank-Suid, het die diens waargeneem.

Haar mede matrikulant van 2007, Stefan Steyn, het die orrelbegeleiding waargeneem. Hy is verbonde aan die Noordwes Universiteit, Potchefstroomkampus se konservatorium.

Steyn se pa is ds. Abel Steyn, leeraar van die Gereformeerde Kerk Lydenburg. Niemand kan uitgesonder word met bedankings nie; dit was ’n spanpoging tussen die eeufeeskomitee, Hoërskool Lydenburg se bestuur en onderwysers, oudleerders en verskeie borge.

Hou die eeufeesgroep se Facebook-bladsy dop vir baie meer foto’s: volg Hoërskool Lydenburg Eeufees Lydenburg Bond High School Centenary.

In foto’: Kyk na die gallery met net ‘n paar foto’s.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button