Durbanville-vrou 109 dae in Mediclinic Nelspruit met Covid
Ná 109 dae in Mediclinic was Magda de Leeuw se boodskap aan diegene wat ooit só 'n Covid-19-reis moet deurmaak: "Glo in God. God is goed."
‘n Egpaar van Durbanville in die Kaap wat in die Laeveld kom ontspan het, sou nooit kon raai dat dit in ‘n stryd om lewe en dood sou ontaard toe een van hulle langer as drie maande in die hospitaal teen Covid-19 moes baklei nie.
Magda de Leeuw (65) het 109 dae in Mediclinic Nelspruit deurgebring. Sy en haar man, Anton, het in Julie met hul karavaan vertrek om Swadini en Marlothpark te kom verken.

Magda het kort ná die aanvang van hul vakansie Covid-19-simptome begin ervaar. Sy is uiteindelik op 1 Augustus in die hospitaal opgeneem.
Anton het in hierdie tyd by Chimp Eden gebly om nader aan Magda te wees. “Dit is al wat ek nodig het,” het hy gesê.
Magda is op 17 November onder die gesing en toejuiging van die personeel ontslaan, maar nou lê daar ‘n lang pad van rehabilitasie by M-Care vir haar voor.

Ten spyte van die lang tyd in die hospitaal, sê Magda sy dink die Here weet waarheen haar pad lei.
“Ek weet nie of dit so goed sou gegaan het as ek op ‘n ander plek was nie. Die behandeling, almal se gesindheid; dit het ‘n groot verskil gemaak en dit het gemaak dat ek ook rustig en kalm was. En natuurlik my man wat elke dag by my was.
“Ek dink hy het ons karavaan se vloer deurgebid.”

LEES OOK: Landsdiensklub druk stempel af
Albei van hulle het al hul eerste inenting gehad. Hulle het gedurende hulle vakansie begin siek word, en Anton het besluit dat hulle hulself eers moes laat toets.
Vir hom was dit ‘n benoude ervaring. “Maar ek sê altyd, sy het vir 45 jaar na my gekyk, so ekke kan ‘n paar jaar na haar kyk.”
Behalwe vir die feit dat sy 101 van die 109 dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring het, moes Magda boonop op 9 September haar verjaardag in die hospitaal vier. Sy kan nie veel hiérvan onthou nie, behalwe dat sy ‘n ballon gekry het.

Een ander herinnering wat haar bybly, was die eerste druppels water oor haar lippe. “Die eerste keer wat ek ‘n bietjie water kon drink … julle, dit was soos manna uit die hemel, só lekker was dit.”
Die volgende mylpaal is op 15 Desember; dan het sy hopelik haar rehabilitasie voltooi en behoort hulle betyds terug by die huis vir Kersfees te wees. “Ons arme worshondjie gaan ons seker nie eens herken wanneer ons by die huis aankom nie.”
As ‘n boodskap aan mense wat ooit hierdie reis moet deurmaak, het Magda net een ding te sê gehad: “Glo in God. God is goed.”
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
