Vriende met tradisies, vrae en verwyte in dié toneelstuk
Hierdie Bietjie-bietjie-Bos-toneelstuk vra daardie slaggaatvraag: Wat As? Daar is nog een vertoning oor by die stadsteater - moet dit nie misloop nie.


Dis tradisie; drie vriende ontmoet mekaar jaarliks in ’n klein kroegie in Mbombela.
Die een is ná skool nooit hier weg nie (hy besit die kroeg), en die ander twee het lewens elders in die land, een as kindersielkundige en een as egskeidingsprokureur.


So begin die drama, Wat As?, in die Mbombela Stadsteater; met drie vriende (vertolk deur Francois Jacobs, Simoné Pretorius en Adriaan van As) en soveel om te onthou.
LEES OOK: So ‘n Bietjie-bietjie Grotman by Sudwala Grotte
Die jaarlikse tradisie het stadig maar seker uitgesterf, maar 10 jaar later kom hulle weer bymekaar met verskuilde verwyt wat swaar in die lug hang.
Hulle stap by die kroeg se deur in en is weer 18 jaar oud. Wonde word oopgekrap waarvan hulle almal maar te bewus is, maar liefs nie oor praat nie – dis eenvoudig te seer.

Op die verhoog deel die vriende herinneringe en spot met mekaar terwyl hulle ewig nader aan die onvermydelike onderwerp beweeg.




Deur monoloë en ’n toename in uitbarstings van elke akteur, leer die gehoor stelselmatig wat agter die drie se verskillende (maar tog dieselfde) fasades skuil.
LEES OOK: ’n Fees van boeke en sang by Bietjie-bietjie-Bos
“F*k elke persoon wat gesê het die lewe is mooi! Die lewe is ’n leuen,” sê die een karakter tydens haar monoloog waar sy haar hoërskool self en die smart wat daarmee gepaard gaan, onthou.


Wat is die uiteinde van jare se verwyt en geheime wat tot op ’n brandpunt kom? Wat as dinge anders gebeur het?
LEES OOK: IN PHOTOS: Arts and crafts classes delight all at Bietjie-bietjie-Bos festival
Indien jy dit misgeloop het, kan jy more nog uitvind hoe die vriende se paaie weer skei. Wat As? is Saterdag om 14:00 weer in die stadsteater.




