Local newsNews

Dakke word vir Kiepersol Woonstelle vir Bejaardes herstel

Die Kiepersol Woonstelle vir Bejaardes se inwoners het Sondag 7 November met hul hande in die hare gesit nadat ’n woeste haelbui en donderstorm die dorp die midddag getref het.

Maandagoggend het dit gou duidelik geword dat die herstelkostes bokant hul vuurmaakplek is. Wings of Gratitude, ’n organisasie sonder winsbejag, het weer ingespring om soos Toinette Finley-Keel sê, “die ou mensies te help”.

Sy en Lorinda Kapp het kontantskenkings van bykans R12 000 ingewin. Boonop het ’n skenker, wat daarop aangedring het om anoniem te bly, R8 000 se dakteëls gekoop.

 

Lees ook: Potjiedag saam met bierproe-lekkerte

Aquaseal het aangebied om die arbeid gratis te doen en die span het die afgelope twee weke elke dag die herstelwerk gedoen. Hulle het reeds drie woonstelle se dakke totaal vervang en sewe woonstelle se dakke is herstel. Op Maandag 29 November was hulle nog besig met die waskamer en buitegeboue.

“Saam met Aquaseal se gratis werk en die skenkings sal die dakke hierdie week klaar wees. Almal het ingespring. En die bejaardes het self rondgeloop en gebreekte teëls in die kruiwaens weggegooi. Hulle het ook vir die werkers kos en koeldrank aangedra. Ons is so trots op almal wat gehelp het. Om hierdie mense ’n Kerstyd te laat ingaan met dakke waar dit inreën, is ondenkbaar. Dis die Thaba Chweu Plaaslike Owerheid se verantwoordelikheid om die woonstelle in stand te hou, maar hulle het geen poging aangewend om die bejaardes te help nie,” het Finley-Keel gesê.

Die plafonne van die woonstelle moet ook vervang word en dan sal dit weer geverf moet word. Enigeen wat wil help om dit moontlik te maak en geld wil bydra, kan Finley-Keel by 072 680 2434 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button