Local newsNewsNews

NHS se rekords maak opslae

Die geskiedenisboeke is verlede week herskryf toe twee rekords wat sedert 1978 en 1979 ongeëwenaard gebly het, deur Hoërskool Nelspruit (NHS) se Rhodé Nel en Zoë Cilliers verpletter is.

Albei rekords het in die 100 m- naellope tydens die skool se jaarlikse interhuisatletiekbyeenkoms in die slag gebly.
Zoë het die 100 m vir dogters o. 14 in ‘n nuwe rekordtyd van 12,91 sek. voltooi, om die vorige rekord van 13,30 sek. wat al sedert 1978 agter die naam van Ann Pieterse (née Stratfort) staan, te verbeter. Pieterse woon deesdae in Nairobi, Kenia, en kon nie vir kommen-taar bereik word nie.

Die o. 19 Rhodé, wat ook die skool se hoofmeisie en ‘n duxleerder is, het Loekie Botha (née Parsons) se rekord van 12,5 sek. na 12,38 verbeter. Botha, ‘n gebore en getoë Laevelder, onthou steeds hoe sy rondom 20 Januarie daardie jaar soos ‘n vetgesmeerde blits in dié tyd oor die wenstreep gebars het. “Dit was my laaste jaar in NHS, en my laaste kans om die rekord te verbeter. Ek het nooit in my wildste drome gedink ek sou dit regkry nie. Ek het teen gedugte atlete meegeding,” het Botha gesê.

Min het sy geweet dat dié rekord vir byna 43 jaar ongeëwenaard sou bly. Dit het egter in ‘n oogwink verander toe Rhodé dié rekord met 0,12 sek. verbeter het.

LEES OOK: Noodbuikoperasie lei tot verdere komplikasies

In ‘n blyk van waardering, toe die skool se Elsabé Steyn ‘n geskenk namens die Palmdraers aan Botha oorhandig het, het Rhodé so ewe met ‘n glimlag om verskoning gevra.

“Sy kan trots wees op die nederige manier waarop sy my ontmoet het. Ek sien haar as ‘n baie goeie mens met respek en goeie waardes waarmee sy haar medemens hanteer. Ek hoop en vertrou dat dié rekord vir nog baie jare sal staan,” het Botha aan Laevelder vertel. Sy reken dat Rhodé in haar laaste jaar op NHS meer as bekwaan is om Riana Swart se 100 m-interhoërrekord van 1979 (12 sek.) en die oudste rekord van dié byeenkoms, 24,8 sek. in die 200 m-naellope deur Marna van der Burgh, kaf te draf.

NHS het nie net op die baanitems, maar ook op die veld opskudding veroorsaak. Saterdag in ‘n vriendskaplike byeenkoms, waarvan Afrikaans Hoër (seuns en dogters) vanaf Pretoria, Rob Ferreira (Witrivier), Ermelo, Lowveld High en Hoërskool Nelspruit deel was, het Ashley Erasmus (o. 17) die gewigstootrekord (met die 3 kg-apparaat) met ‘n verstommende 18,65 m ingepalm.

LEES OOK: Skukuza-aap byt vrou

Hierdie ongelooflike afstand het die entoesiaste dadelik na die rekordboeke laat gryp en die internet is geraadpleeg om die omvang van Ashley se puik afstand in perspektief te plaas. In 2021 het Zonnika Lindeque van Gauteng Sentraal ‘n pragafstand van 18,18 m in die Paarl behaal. Dit was die RSA, Afrika én Statebond se verste afstand (vir hierdie item) in die geskiedenis.

Met haar 18,65 m is die Laeveld se beste veldatleet van alle tye dus nou die nuwe houer van dié nasionale rekord, die Afrika-rekord – en niemand in die ganse Statebond (insluitende lande soos Kanada, Jamaika, Australië, Nieu-Seeland en Engeland) kon nog ooit ‘n beter afstand as Ashley haal nie!

Dit is die beste tot op datum wêreldwyd, en hierdie 18,65 m besorg aan Ashley die agtste plek op die lys van die beste afstande van alle tye.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

Back to top button