Familielede uit Mbombela-vrou se optel-Bybel word opgespoor
Afstammelinge van beide die De Beers en Pieterses het na Laevelder uitgereik rakende dié Bybel.
Ná afloop van die eerste berig deur Laevelder oor ‘n Familiebybel wat op ‘n ashoop gevind is, het twee families wat verbintenisse opgespoor het, reeds na vore getree.
ie eerste was Jerry Pieterse van Johannesburg, wat gedurende die grendeltydperk die uitleg van die Pieterse-stamboom hervat het. “Dit het gevoel soos die regte ding om te doen. Ek voel almal moet weet presies waar hulle vandaan kom, insluitende my twee seuns, Cullen en Liam, die laaste twee Pieterses in die familie.”
Met behulp van Pepe McLachlan (kundige op die gebied van genealogie) het Pieterse op ‘n vonds afgekom.
LEES OOK: Nostalgie na vervloë dae se algemene handelaars in Lydenburg
Pieterse sê sy verbintenis met die Bybel gaan sowat vier of vyf generasies terug. Sy betooroupagrootjie was Wilhelmus Petrus Pieterse (1869-1945) en dié se vrou was Cornelia Johanna Delport (1879-1938). Hulle is in 1897 op Wakkerstroom getroud. “Cornelia se pa was Folkers Johannes Delport (‘n naam voor in die Bybel geskrewe).”

Hy sê verskeie name voor in die Bybel is aan hom verwant. “My betooroupagrootjie se een broer was Johannes Lodewijk Pieterse, voor in die Bybel. “Martha Maria Elizabeth Pieterse (1887-1966) in die Bybel was my oumagroottante.” Te danke aan die Bybel kon hy ook haar grafsteen opspoor.
Hy kon nog nie al die name aan sy stamboom koppel nie, maar hoop om dit binnekort reg te kry. Hy nooi enigiemand wat dié berig lees uit om saam met hom
te werk. Die tweede konneksie het vanuit Springs gekom; ook te danke aan McLachlan wat vir Pieterse gehelp het.
LEES OOK: Nostalgie na vervloë dae se algemene handelaars in Lydenburg
Maritha de Beer is die skoondogter van Isabella Petronella de Beer (née Greyling) wat voor in die Bybel genoem word as die eggenoot van Diederik Johannes de Beer. Sy begrafnisbrief, in kleur, is ook in die Bybel.

“Ná McLachlan my gekontak het met die stamboom, het ek koue rillings gekry toe ek skoonpa se begrafnisbrief sien. Ek het daardie einste brief self vyf jaar gelede gemaak.”
Haar skoonma is sover sy kon sien die enigste oorlewende lid. Sy is nou 92 en nog baie op en wakker, veral as dit by familie uitlê kom. “Ek is seker sy sal al die gate sommer vinnig kan volmaak. Haar suster, Sarah Johanna Ackerman (née Greyling), en broer, Marthinus van Rooyen-Greyling, is reeds oorlede.”
Maritha en haar man woon al vir 46 jaar in Springs, waar haar skoonouers ook gewoon het.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
