Hoërskool Bergvlam se kultuurfees ‘n hoogtepunt op kalender
Bergvlam se leerders het hul gehoor behoorlik vermaak met hul kulturele talente tydens die skool se onlangse Vlammiefees.
Die Vlammiefees 2022 het op 16 Mei afgeskop met ‘n aand vol drama. Die inskrywings vir Vlammies om deel te neem aan hierdie jaar se fees het reeds in April geopen, en die leerders het die geleentheid gehad om vir oudisies te gaan vir drama, sang, dans, instrumenteel, kreatiewe skryf en kuns.
Die top 15 deelnemers per kategorie is aangewys, en dié leerders het hard geoefen vir die onderskeie aande se aanbiedings by die fees. Maandag se drama-aand het twee items ingesluit wat nie deel van die beoordeling gevorm het nie. Milan Barnard, ‘n 10-jarige van Den Ateljee, het “Peperjambak” deur Annette Nel vir die gehoor gedramatiseer, en Willaine Bekker het ‘n redenaarstuk gedoen.
Die top vyf vir drama was Milde Cronjé, Sariette Kuperus, die duet van Katiso Sedibe en Jaelyn de Vries, die duet van Charlotte Xozumti en Thato Dlamini, en Phila Maluka. Dinsdagaand was die sangers op die verhoog met gaskunsternaars Pieter Briel en Anne-Marie.
LEES OOK: Nostalgie na vervloë dae se algemene handelaars in Lydenburg
Dit was byna onmoontlik om uit hierdie 15 optredes net vyf te kies. Nietemin het Junior Khoza, Cebo Nkosi, Alix Kinnear, Tom Sikonela en Bianca Swift na die gala-aand deurgedring. Woensdag was dit instrumenteel en dans se beurte. Hier het die beoordelaars dit ook nie maklik gehad nie.
Ethan Henrichsen, Adrian Frants en Sinethemba Sambo Drie het vir instrumenteel na die gala-aand deurgedring. Die dansers wat dit gemaak het, was Naveena Sabu, Kayden Vilakazi en Tumi Moela, en die groep Dance in Advance, wat bestaan uit Lesego Shube, Sinethemba Sithole, Jayden Philander, Mpho Qwabe en Bahle Nxumalo.
‘n Vlammiefees moet natuurlik ‘n balans tussen oud-Vlammies en dié van vandag hê. Wimpie en Danie Strydom, twee oud-Vlammiebroers, het die aand se program met ‘n lofprysing van formaat begin en die gehoor met hulle stemme en kitaarspel bekoor.
Die skool se eie Afrikaanse onderwyser, Anseri Boje, het gesorg vir trane met haar lied, en die aand is op ‘n hoogtepunt afgesluit met nog ‘n oud-Vlammie, Lonita Swift, se stem.
LEES OOK: Hou saam kermis by Rusoord
Gerhardt Nel van Radio Laeveld was die hoofbeoordelaar vir die drama-afdeling, Mireille de Villiers, ‘n bekende joernalis, was die skryfkunsbeoordelaar, Peter Salzwedel was daar vir die sang, Lizanne Barnard vir instrumenteel en die alombekende Zane van Zyl het gesorg vir die afrondingspunte. Aldea Kruger se kennis is vir die kunsbeoordeeling gebruik en Jana Claassens s’n vir die dans.
In die drama-afdeling is Katiso Sedibe en Jaelyn de Vries as wenners aangewys. Vir sang het Alix Kinnear met die wentitel weggestap. Instrumenteel, dans en kuns se wenners was onderskeidelik Ethan Henrichsen, Naveena Sabu en Princess Mahlalela. Megan van Rooyen in as wenner in die kreatieweskryfafdeling aangewys.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram