Tweede Innibos In jou huis-musiekteater ‘n treffer
Mbombela was bevoorreg om Jak de Priester en Bibi Slippers by die tweede Innibos In jou huis-musiekteater te siene te kry.
Die tweede Innibos In jou huis-musiekteater met Jak de Priester en Bibi Slippers is aan huis van dr. Sarita Retief aangebied. Met die uitsig van Mbombela se aandligte in die agtergrond, het die konsert begin met Slippers se treffende versreëls, soos “verlang net na die vrede | van dié ingelegde nou | saam met jou”, voorgelees uit haar digbundel, Fotostaatmasjien.
LEES OOK: Laerskool Malelane groet juf. Sue, hul netbalafrigter
Die lirieke van Jak de Priester se liedjie het perfek daarby gepas: “…meer geduld hê, minder raas | meer my tyd vat, minder haas”. Die manier waarop hulle die gedigte en lirieke ineengevleg het, was besonders.

De Priester is bekend as musikant, maar is ook ‘n skrywer en digter van formaat. Hy debuteer met die digbundel Heuning in die mond, en daarna volg Agter palissades. Daarna publiseer hy die koffietafelboek, Brood, waarin lirieke van sy musiekalbums, bladmusiek, stories, gedigte, animasies en foto’s opgeneem is.
LEES OOK: Man doodgery op die Plaston-pad
Slippers het in 2017 die literêre wêreld behoorlik laat regop sit met Fotostaatmasjien, wat met die Eugène Marais-prys, die UJ-debuutprys en die Elisabeth Eybers-prys bekroon is. Hierdie twee talentvolle woordkunstenaars het die gehoor in die palm van hul hande gehad; De Priester met sy sielvolle vertolking van sy liedjies en Slippers met haar raaksêpoësie.

In Fotostaatmasjien het geel ‘n belangrike rol gespeel en was dit ook die kleur van die omslag, maar in haar nuwe bundel is pienk die sentrale kleur. “Pienk is nou my gunstelingkleur,” het sy gesê en na die pragtige pienk rok gewys wat sy die aand aangehad het. Sy het tot vermaak van die gaste die gedig “Pienk” voorgelees, en gesê dat die nuwe bundel se omslag moontlik hierdie kleur gaan wees. Nog ‘n gunsteling was haar windhond wat sy met min woorde treffend beskryf het.
LEES OOK: Kuns- en handvlytklasse bied uitsonderlike afleiding in die bos
De Priester se musiek was uit die boonste rakke. Hy het al 11 albums agter die rug. Sedert sy deurbraak met die wen van die ATKV Crescendo in 2002, het hy hom gevestig as sanger en aanbieder van verskeie televisieprogramme soos Reis na gister en Koppieteefontein. Hy het spesiaal die temalied van Binnelanders vir die gasvrou en al die dokters wat die aand bygewoon het, gesing.

Hierdie konsert is gratis met die ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teaterinsisiatief deur Innibos aangebied. Die gaste se skenkings gaan aan Nelspruit Hospice oorhanding word. Die konsert is direk deur Radio Laeveld uitgesaai en luisteraars het saam via WhatsApp gesels.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
