Vrou wen R20 000 elk vir Witrivier DBV en haarself
Aanhouer wen, het Linda Dwinger bewys ná sy 'n Jacaranda-kompetisie gewen het. Haar deursettingsvermoë het gesorg dat die DBV in Witrivier óók baat.
‘n Vrou van Mbombela het vir meer as twee weke lank élke dag SMS’e aan Jacaranda gestuur om prysgeld te wen; nou baat die Witrivier DBV ook sommer daarby.
Linda Dwinger het vir die Martin Bester Show se Lottoland-kompetisie ingeskryf en ná sy amper moed opgegee het, R20 000 gewen. As deel van die kompetisie kan ‘n mens ‘n weddenskap plaas sodat ‘n liefdadigheidsorganisasie van jou keuse ook by jou wengeld baat; só het Dwinger haar R20 000 gekry en die DBV syne.
“Ek het dit heeltyd in my agterkop gehad dat ek hulle sou nomineer, want ek weet wat die behoefte daar is. Die dorpie is klein en ek het ook gelees dat hulle in samewerking met Nelspruit se DBV in Barberton help, want die DBV daar het sy deure toegemaak. My jongste seun het ook baie jare gelede partykeer daar gehelp om hokke skoon te maak so gedurende skoolvakansies en naweke.”

Ná teleurstelling op teleurstelling het sy op 10 Junie die oproep ontvang. “Martin Bester praat met my, vra my die vraag en kondig toe aan dat ek R20 000 gewen het!
LEES OOK: Gemeenskap dra by tot Witrivier-rugbyspeler se kakebeenoperasie
“Ek het gegíl dat die hele West Acres my gehoor het en natuurlik ook begin huil. Martin vra toe of ek gewed het en watter liefdadigheid ek wou nomineer. “Hy was ook dankbaar daarvoor dat ek die DBV gekies het, en het bygevoeg dat mense die stemme is vir diere wat nie kan praat nie… Dit was vir my baie mooi.”

Die nuus van haar skenking aan die DBV het die organisasie se voorsitter, Estelle de Villiers, bereik voor sy nog ‘n kans gehad het om self vir hulle daarvan te sê. Die geld gaan aan ‘n isolasie-eenheid vir katte waarvoor die DBV reeds begin geld insamel het.

“Dit het my hart so ‘n lekker warm gevoel gegee, dat ek ‘n gaatjie op so ‘n manier daar by die diere kon toemaak.” Dit is natuurlik geen verrassing dat Dwinger self ook ‘n diereliefhebber is nie, veral as dit by katte kom. Sy het self in die afgelope 12 jaar vyf katte gehad. Een van dié katte, 12 jaar oud, is drie maande gelede oorlede, en haar hart is stukkend. Al haar katte het sy as rondloperbabakatjies gevang.
LEES OOK: Kabouterland donates to White River SPCA
Dan het sy ook twee honde, een van Pro-Life en een wat iemand in ‘n boks by haar aangebring het.
Vir haar deel van die prysgeld is daar so ‘n paar moontlike planne, maar vir nou moet dit nog eers bietjie stil lê, sê sy.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
