Local newsNewsNews

Voormalige Mbombela-man en ma herenig ná 40 jaar

Sommige Laevelders sal 'n noodlottige ongeluk wat in 1992 ses vroue se lewens geëis het, onthou. Een van die seuns wat daardie jaar sy ma, wat hom in 1981 aangeneem het, verloor het, is onlangs met sy biologiese ma herenig.

In September 1992 het ‘n tragedie Mbombela getref toe ses vroue in ‘n motorongeluk oorlede is; 10 kinders is daardie dag sonder ‘n ma gelaat.

Vir Brandon Lloyd Blignaut, een van dié kinders, was dit egter nie die eerste keer dat hy ‘n ma verloor nie. Hy is in 1981 van sy biologiese ma, Salomé Tadford (toe Erasmus) af weggevat, toe Tadford se ma hom vir aanneming laat opgee het.

So het hy in die sorg van René Blignaut beland – op papier sy aanneemma, maar vir hom sy má, sy beste vriend en sy alles. Dit is nou nog vir hom moeilik om oor haar te praat, omdat dit bloot te seer is. “Ek kan net die goeie tye onthou, al was dit net 11 jaar van my lewe.”

Hy onthou nog hoe hy eenmaal op sy skaatsplank in Van Wijkstraat af gery en sy nerwe afgeval het. “My ma het Germolene op my been gesmeer en vir twee ure lank gesit en op my been geblaas.” Na René se dood, is sy pa so ‘n paar jaar later in 2009 ook oorlede. Oor hom voel hy net soos oor René. Hulle was baie na aan mekaar en hy mis albei ongelooflike baie.

Die voorblad van Laevelder op 15 September 1992 berig oor die ses vroue se noodlottige ongeluk.

Tadford sê sy is dankbaar vir die rol wat René in haar seun se lewe gespeel het. Ten tye van Brandon se geboorte was sy maar 13 jaar oud. Brandon was haar tweede kind – sy het met elk van die twee kinders swanger geraak, slegs ‘n jaar en vyf maande na mekaar, ná sy deur twee verskillende mans verkrag is. Sy was tussen vyf en ses jaar oud toe sy die eerste keer gemolesteer is.

LEES OOK: Gemeenskap dra by tot Witrivier-rugbyspeler se kakebeenoperasie

Tadford vertel sy het vir jare lank ná haar seun gesoek en gewonder waar hy is; of hy veilig is, en of hy ‘n familie van sy eie het. Haar soektog na hom het voor 2012 nie veel opgelewer nie, maar sy sê sodra Facebook en die internet meer toeganklik geword het, het dit die proses heelwat makliker gemaak. Steeds het dit haar nóg 10 jaar gevat om hom op te spoor.

Sy het haar storie al met baie gedeel en ook ‘n Facebook-blad (Son where are you? – Fritz Brandon Erasmus – Born 17 September 1981) gestig met die doel om vir Brandon op te spoor.

Die enigste foto wat Salomé Tadford van haar seun gehad het.

Op 5 Julie, vroeg die oggend, kry sy ‘n boodskap van ‘n onbekende nommer: “Hello, ek’s jammer ek pla so vroeg. Maar jou storie het my in trane en ek dink ek het dalk informasie. Ek ken ‘n Brandon. Sy verjaarsdag is wel die 18de September 1981 en nie die 17de nie. En op sy aannemingspapiere sê dit Fritz Brandon Olmar Erasmus. Kan dit dieselle een wees…?” [sic]

LEES OOK: Ruiters tem Fauresmith, modderbad en al

Sy was verbysterd en het haar man gevra om ook die boodskap te lees. Hulle besluit toe om die vrou vir meer inligting te vra, waarna sy ‘n foto van Brandon se aannemingsdokument gestuur het. Tadford het dadelik haar ma se handskrif op die dokument herken. Dié is self in 1994 in ‘n motorongeluk oorlede.

Salomé Tadford en haar seun, Brandon Blignaut, tydens hul eerste ontmoeting.

Tadford en Brandon het daardie selfde dag nog met mekaar kontak gemaak, waarna sy en haar man van Krugersdorp na Pretoria, waar Brandon nou bly, gery het.
“Die dag toe ons ontmoet het, was ek senuweeagtig, maar nie emosioneel nie. Ek was gelukkig, maar het nie geweet wat om te verwag nie,” sê Tadford.

LEES OOK: AfriForum Nelspruit-tak staan Grace Baby Haven met skenking by

“Toe ek hom sien, het ek my hand uitgesteek (‘n mens wil nie iemand sommer net omhels nie), maar hy het my onmiddellik omhels.” Brandon sê hy was baie bly om haar te sien. “Ek was ‘n bietjie bang, want ek het nie geweet wat om te verwag nie, maar dit het goed afgeloop.”

Hy het geweet hy is aangeneem, maar het glad nie vir Tadford geken nie. Nou het hulle mekaar al drie maal gesien. Tadford het haar kleindogter ontmoet en Brandon het sy stiefbroer en -suster ontmoet. Sy biologiese halfsuster, Tadford se eerste dogter, bly egter ver; dié het hy nog nie ontmoet nie.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button