Izak du Plessis, bekende potgooier en voormalige radioman, agter tralies
Du Plessis is Donderdagmiddag omstreeks 12:30 by 'n bekende inkopiesentrum in Mbombela in hegtenis geneem.

Die bekende oud-RSG-joernalis en tans eienaar en aanbieder van sy eie internetnuuskanaal, Nuuspod, Izak du Plessis, is agter tralies.
Du Plessis is Donderdagmiddag omstreeks 12:30 by ‘n bekende inkopiesentrum in Mbombela in hegtenis geneem.
Hy is deur ‘n spesiale ondersoekspan van die Valke en die polisie se misdaadinligtingseenheid en soek-en-opsporingspan in hegtenis geneem op sterkte van ‘n lasbrief vir minagting van ‘n hofbevel.
Lees ook: NHS-leerder stabiel ná ernstige ongeluk
Die inhegtenisname spruit voort uit twee video’s wat op Nuuspod gepubliseer is, waarop twee afsonderlike mense oor Bolhuis se optredes en ondersoekmetodes gekla het.
Hulle het Bolhuis onder meer daarvan beskuldig dat hy hulle geld gesteel het deur nie ‘n diens te lewer waarvoor hulle hom betaal het nie.
Die klaers, wie se name aan Laevelder bekend is, het glo die videomateriaal aan Du Plessis beskikbaar gestel, wat hy toe op Nuuspod geplaas het.
Bolhuis het bevestig hy het ‘n lasbrief vir Du Plessis se inhegtenisname gekry nadat hy eers ‘n hooggeregshofbevel verkry het om Du Plessis te verhoed om hom verder te belaster en om onverwyld die insetsels en video’s van al sy sosiale platforms te verwyder.
“Hy het blatant geweier om aan die hofbevel gehoor te gee en het steeds voortgegaan met sy gewraakte smeerveldtogte teen my. Ek is van mening dat hy sy gat aan die gereg, die reg en die howe afvee deur dit te weier.
“Sy uitgangspunt dat hy sy ‘mediavryheid’ uitoefen om steeds die inligting te publiseer, is misplaas,” het Bolhuis aan Laevelder gesê.
Volgens Bolhuis het die twee persone wat aanvanklik die video’s en inligting aan Du Plessis gegee het, hom glo “gesmeek” om dit te verwyder. Hy het egter geweier.
Bolhuis sê na regte behoort Du Plessis se twee bronne ook in hegtenis geneem te word.
“Ons het egter besluit om dit nie te doen nie, en help die twee tans om ‘n ondersoek namens hulle teen Du Plessis te doen,” aldus Bolhuis.
Oor die afgelope paar maande het Du Plessis voortdurend op Nuuspod gesê hy weier om die “waarheid” te verdoesel en sal nie die video’s verwyder nie. “Ek het hom tientalle keer gewaarsku om sy veldtog te staak, maar hy het geweier. Ek is toe genoop om vir ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming aansoek te doen,” sê Bolhuis.
Op 29 Julie het Bolhuis ‘n “Wanted”-brokkie op sy Facebook-blad geplaas waarin hy sy voorneme om Du Plessis in hegtenis te laat neem, aangekondig het.
In Sondag se uitgawe van Rapport word beweer dat die verskil tussen Bolhuis en Du Plessis reeds in November begin het. Du Plessis het aan die koerant gesê die klaers het dokumente en bewyse aan hom gegee om hulle bewerings te staaf. Hy het glo ook aangebied om Bolhuis se kant van die saak te stel en ‘n onderhoud met hom by sy huis te voer, en sê dat Bolhuis dit nie nagekom het nie en slegs ‘n boodskap gestuur het waarin hy hom aangeraai het “om eerder ‘n pad saam hom te stap”.
Du Plessis het verder gesê dat die balju hom die vorige Vrydag gebel het en ingelig het dat hulle voor sy huis in Melville staan en dat hy ‘n hofbevel moet onderteken. Du Plessis het gesê dis alombekend dat hy in Mbombela woon, en het verder ontken dat hy al ooit enige dreigbriewe of regsdokumente van Bolhuis ontvang het.
Sy regspan het bevestig dat ten tye van die publikasie, Du Plessis in die aanhoudingselle by die Nelspruit Polisiestasie is en dat hulle besig is met die proses om hom vrygelaat te kry. “‘n Verklaring sal uitgereik word sodra Du Plessis vrygelaat is,” het die span gesê.

