Leon van Nierop se Plesierengel op die planke by Innibos Teaterweek
Hou jou eerste naweek in September oop as jy 'n aanhanger van Leon van Nierop en teater is. 'n Kombinasie van die twee wag op jou by Innibos se teaterweek.
Dié eenmanstuk is gegrond op Leon van Nierop se blitsverkopers, Plesierengel en Katelknaap, en is tydens Innibos se teaterweek by die Mbombela Stadsteater te sien.
Toe ‘n jong man die skrywer Leon van Nierop 25 jaar gelede uit die bloute nader om sy “besondere lewensverhaal” te skryf, was die skrywer aanvanklik huiwerig. Tot die man sekere geheime openbaar het wat sy unieke verhaal ‘n ander dimensie gegee het.

Tristan Hansen het in ‘n streng en liefdelose huis grootgeword en tragiese omstandighede dwing hom om ‘n sekswerker te word. Hy laat vroue swymel en gou word hy die gewildste en hoogsbetaalde gigolo in Suid-Afrika. Vir Hansen gaan dit egter nie net om seks nie – vir hom is dit belangriker om waarlik liefgehê te word. Hierdie verhaal is op ware gebeure gegrond.
LEES OOK: Izak du Plessis, bekende potgooier en voormalige radioman, agter tralies
Die bekroonde teatervervaardiger, Johan van der Merwe, en die regisseur, Lihan Pretorius van Leftfoot Productions, het hierdie sensitiewe tema aangepak en in ‘n verhoogstuk omskep wat nie net fokus op die verhoudings en unieke insidente met vroue nie, maar ook op die tragiek van hierdie karakter en sy lot.

Van Nierop het self die verhoogteks geskryf en dit uitstekend reggekry om die eensaamheid, weerloosheid en die reuse- en onverwagse wendings wat Hansen se verhaal geneem het, neer te pen.
Ruan Wessels, wat die rol van Hansen speel, is bekend vir sy rolle in die TV-sepie Binnelanders, asook op die verhoog in onder andere Brothers en Wie hyg so? en rolprente soos Hoofmeisie, Dis ek, Anna, Jou Romeo en die TV-reekse Erfsondes, Ekstra Medium, Spoorloos en andere. Hy het aan Van Nierop gesê dat hy vreesloos eerlik en onbevange op die verhoog wil wees.
LEES OOK: NHS-leerder stabiel ná ernstige ongeluk
Na afloop van die produksie se speelvak in Centurion, het Van Nierop Leftfoot Theatre Productions geloof vir die wyse waarop hulle met dié moeilike tema omgegaan het.
Plesierengel is ‘n verhoogstuk wat jou aan die hart sal gryp, want dit is ‘n toneelstuk wat handel oor verwerping, emosionele verwaarlosing, wanpersepsies en vooroordeling – veel meer as net oppervlakkige plesier. ‘n Moet-sien-produksie.
Dit is op Vrydag 2 September om 17:00 en Saterdag 3 September om 15:00 by die Mbombela Stadsteater te sien. Kaartjies is by Quicket te koop.
Vir meer inligting, besoek Innibos se webwerf op www.innibos.co.za.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
