‘n Mbombela-Bok-ervaring soos min
En wat 'n atmosfeer het daar nie op 6 Augustus in die Mbombela Stadion geheers nie!
‘n See van groen en goud, ‘n volkslied soos geen ander, en die grootste Springbok-oorwinning oor die All Blacks in professionele rugbygeskiedenis.
Dít was Mbombela Stadion en die omliggende gebied op 6 Augustus. Diegene wat aan die parkrun deelgeneem het, was skaars afgewarm toe staan daar al karre by die stadion geparkeer. Vinnig-vinnig was die braaiers en biere uit, en die opgewondenheid vir wat voorlê was tasbaar.
Die biertent, wat op die B- en C-veld uit sy nate gebars het, het gesorg vir meer as genoeg vermaak voor en na die wedstryd, met lewendige optredes, kosstalletjies en selfs ‘n paar speletjies wat Castle opgestel het.

Dan was daar natuurlik ook die oomblikke bínne die stadion. Vir iemand wat nog nooit ‘n Springbok-wedstryd in lewende lywe gesien het nie, was dié een ongetwyfeld ‘n ideale eerste. Die gees was ongekend soos plaaslike inwoners en dié van elders in die skare van 42 367 saamgesmelt het.
ALSO READ: Lowveld runner to support Nelspruit Hospice in 2022 Comrades Marathon
Die skare het reeds tydens die spelers se liggaamlike opwarming hul stémbande begin opwarm. Die gejuig het van daar af net toegeneem tot die oorverdowende, hoendervleisgewende volkslied soos jy hom nog nooit vantevore gehoor het nie. Dié deel van die dag word nóú nog oor gepraat.

Gedurende rustyd het ‘n Pumas-verrassing ook sy opwagting gemaak. Hoe dan anders as om die Pumas-afrigter, Jimmy Stonehouse, sy bekende weergawe van “Sweet Caroline” op dié span te tuisveld te laat sing? Dít het ‘n Laevelder sommer ekstra tuis laat voel.
Die wedstryd self het gesorg vir hope opwinding met ‘n gesing en ‘n gejuig elke keer as die Bokke naby aan punte gekom het.
Toe die wen ‘n sekerheid is met Wille le Roux se punte in die doodsnikke, het die skare ontplof. Absolute heerlike chaos. Daar was selfs ‘n paar darem-nie-kaal-naelers wat dit tot op die veld gewaag het, tot groot genot van die skare, maar minder so vir die sekuriteit.

Diegene wat nie kon of wou kaartjies kry nie, het die res van die stad en omstreke oorgeneem. Selfs in die Nasionale Krugerwildtuin is die rooibokke met rus gelaat terwyl die besoekers ‘n ander tipe Bok dopgehou het.
ALSO READ: Five Somalians die in accident on N4 near Ngodwana
‘n Goeie 500 mense het by Mustangs – The Dancing Place bymekaargekom, ‘n klompie by Blue Moon (met ‘n Juan Boucher-vertoning na die tyd), en die res op verskeie ander plekke.
Dis veilig om te sê die Bokgees het Mbombela behoorlik oorgeneem.




















> Foto: Kaptured Concepts






