Slagoffer van sakeroof ter ruste gelê in Mbombela
Riaan van der Sandt was sy familie se steunpilaar en held. Familie en vriende het op Saterdag 13 Augustus saamgekom om sy lewe te vier na sy dood op 5 Augustus.
Die blou van onthou was volop in die AGS Communio Kerk tydens Riaan van der Sandt (51) se begrafnisdiens – diegene wat die diens bygewoon het is gevra om iets blou dra, sy gunstelingkleur.
Van der Sandt, die eienaar van Koenic Dunlop Zone Nelspruit, is op 5 Augustus tydens ‘n sakeroof by Koenic geskiet en is op die toneel oorlede. Vier verdagtes is al in verband met sy moord gearresteer.
Past. Freddie Steenkamp, wat die diens gelei het, het aan die begin daarvan gevra dat die gemeente op hul knieë voor die Here in ‘n gebed gaan. Hy het gesê ten spyte van én te midde van die warboel van emosies wat saam met Van der Sandt se afsterwe gepaard gaan, hou die Here al die tyd Sy hand oor sy familie en vriende.

Na afloop van die gebed, het twee vriendinne die lied “Neon Moon” gesing, terwyl Van der Sandt se vrou, Adele, en sy drie kinders, Rochelle, Cherise en Hanroux, kerse aangesteek het as ‘n uitdrukking van hul blywende liefde vir hul geliefde man en pa. Felicity Lange, ‘n familievriend, en Rochelle het roerende huldeblyke gelewer wat gesorg het vir gelukkige herinneringe asook hartseer glimlagte onder die sprekers en gemeente.
Uit sy kinders se briewe kan enigeen sien dat dié man sy kinders se held en hul alles was.
LEES OOK: Hugo Greyling se lewe by Nelspruit Rugbyklub gevier
Cherise skryf: “My Pappa. My held, die man na wie ek die meeste opkyk, wat ek so so lief het. Dankie dat Pappa die beste Pappa is vir sy kinders, wat so mooi na sy vrou kyk en die grootste familiemens is wat ek ken. Die man wat so so trots is op sy familie en sy seun wat sy drome volg. Pappa is die persoon wat die life of the party is, wie dit love om te gaan kamp en die bosveld liefhet amper net so baie soos Mosambiek. Ek is vir ewig dankbaar dat Liewe Jesus my gekies het om Pappa se kind te wees.”
Hanroux het op sy beurt sy sussie se woorde beaam. “Pappa was die beste Pappa ooit, ek kon nie vir beter vra nie. Pappa is altyd daar wanneer ek iets nodig gehad het. Pappa het my so baie ondersteun met alles wat ek gedoen het, ek is so dankbaar vir Pappa. Ek is ongelooflik baie lief vir Pappa. Pappa is my held en ek waardeer Pappa so baie.”

Ook Rochelle het nou ‘n leemte in haar hart wat net haar Pappa kon vul. “My Pappa, daar is so baie wat ek kan sê. Pappa is ongelooflik. “Pappa is sterk. Pappa is my hero. Ek het altyd so veilig by Pappa gevoel. Saam met Liewe Jesus dra Pappa ons deur al ons moeilike tye. Ons sal altyd Pappa in ons harte koester as die persoon wat ons altyd kon maak lag.
LEES OOK: Saak teen Izak du Plessis van rol verwyder
“Ek is so lief vir Pappa en ek weet Pappa gaan my hand vashou orals waar ek gaan.” Adele sê as sy haar oë oopmaak in die oggend is hy by haar, as sy haar oë toemaak in die aand is hy by haar, “en nou… nou is jy nog steeds by my, in my hart. My hart is gebreek maar ek weet jy sal wil hê my hart moet heel word en hy sal, want jy het my drie pragtige kinders gegee wat my opbou, by my staan en wat my oneindige baie liefde gee. Hulle is my alles, alles, alles.
“Ek sal jou trots maak want I can do this, with you in my heart.”
Ook in sy moeder, Serah, en broer, Johan, se lewens was hy ‘n absolute en onvervangbare steunpilaar.
