Local newsNewsNews

Hans steek die Rubicon oor-akteur gesels voor Mbombela-vertonings

Charlie Bouguenon vertel wat dit verg om die bejaarde Hans in dié toneelstuk te speel.

‘n Hengse uitdaging, maar ‘n heerlike een, is hoe akteur Charlie Bouguenon die kans beskryf om ‘n heelwat ouer karakter in die teaterstuk Hans steek die Rubicon oor tydens Innibos se komende Teaterweek van 1 tot 3 September in die Mbombela Stadsteater, te speel.

Die toneelstuk is gebaseer op Rudie van Rensburg se gelyknamige en gewilde boek, en die dramateks is deur Francois Toerien verwerk. Hans word onwillig deur sy kinders na ‘n ouetehuis gestuur, maar hy is allermins van plan om sy steeds woelige gees daardeur aan bande te lê, en die poppe begin behoorlik in Huis Madeliefie dans.

Charlie Bouguenon. > Foto: Verskaf

“Ek vertolk sowat 15 karakters in dié drama,” vertel Bouguenon. “Daarby is ek self nog ver van ouetehuismateriaal, en daarom word die storie as’t ware op ‘n leë doek op die verhoog geskilder. Daar is geen kostuums nie en die minimum stelinkleding, wat die gehoor se verbeelding goeie vrye teuels gee.”

LEES OOK: Innibos Teaterweek bring komedie en oopkopdrama na die Laeveld

Dit is veral ook die spelleiding onder die regie van Lizz Meiring waaroor hy opgewonde en dankbaar is. “Ek wou al hoe lank saam met haar werk, en het behoorlik gespring toe die kans hom voordoen. Sy verstaan die stem en nuanse van drama, en weet nét hoe om dit uit te beeld. Ons albei se moedertaal is drama,” lag hy.

Terwyl sy senuwees lekker kan knaag wanneer hy voor die kameras in ‘n televisiereeks of rolprent optree, is dit nie die geval met verhoogwerk nie. “Dit is asof ‘n kalmte oor my neerdaal. Ek vóél vir teater,” is sy entoesiastiese verklaring.

Verskeie ouer akteurs het die rol van die hand gewys bloot omdat dit so veeleisend is. “Nie net is dit fisiek ‘n vinnige tempo wat volgehou moet word nie, maar die lang teks is ook uitdagend. Kyk, Hans is g’n van plan om te loop sterf daar in die ouetehuis nie, en dit is eerder asof sy rebelse streep behoorlik ontwaak.”

LEES OOK: Innibos se Musical Moments het gehoor in magiese vervoering

Bouguenon vertel hy het onder meer in sy herinneringe van sy eie oupa gedelf om gestalte aan Hans te gee. “My oupa het ook so ‘n dwars streep gehad en was van daardie geslag wat nie ‘n tafel sou koop nie, maar dit self aanmekaar sou timmer… gehard en hardkoppig.”

Tussendeur die strawwe repetisie sien hy daarna uit om weer in die Laeveld op te tree. “Ek dink ons almal wat al by Innibos was, het onttrekkingsimptome! Ek kan nie wag om weer in die Laeveld op te tree nie.” Hans steek die Rubicon oor word vervaardig deur die produksiehuis Leftfoot Theatre Productions met die ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief.

Vertonings is op Donderdag, 1 September, om 18:00, Vrydag, 2 September, om 20:00 en Saterdag, 3 September, om 10:00. Kaartjies kos R150 en is by Quicket te koop.

Vir enige navrae, bel Philna Scholtz by 072 211 3565.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button