Laevelders bring hulde aan geliefde Lean van Kradenburg
Motorfietsryers van regoor die Laeveld en vriende en familie van Lean van Kradenburg het op 10 en 11 September bymekaargekom om hulde aan hierdie geliefde man te bring.
Mense het die afgelope naweek van oraloor gekom om ‘n emosionele afskeid van ‘n geliefde Laevelder, Lean van Kradenburg, te neem.
Van Kradenburg, die president van Steelwings Lowveld, is kritiek beseer ná hy op 13 Augustus tydens ‘n rit op sy Harley-Davidson op die KMI Lughawe-pad (R538) in ‘n ongeluk was. Hy is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem voor hy na die Netcare Milpark Hospitaal in Johannesburg oorgeplaas is, waar hy vir sy lewe geveg het. Hy is op 28 Augustus oorlede.
‘n Viering van sy lewe is op 10 September by Trivista Farm op die R37 gehou. Meer as 100 bewoë mense het hul eer aan hom kom betoon, insluitende familie, vriende en motorfietsryers van regoor die Laeveld.

Die volgende dag het die groep mense weer bymekaargekom om hulde aan Van Kradenburg te bring; hierdie keer by die Valley Hyper Sentrum. Van daar is talle motorfietsryers na die plek waar Van Kradenburg sy ongeluk gehad het. Hier het hulle ‘n kruis in sy eer opgerig, waar blomme en kranse neergelê is.
LEES OOK: Een persoon word 15 in Innibos-teaterstuk
Van Kradenburg se vrou, Amanda, se huldeblyk was roerend. “Lean, Bolla, Op 13 Augustus is jy van ons weggeruk en ons lewens is totaal verander. Ons het twee weke saam met jou gehad van gesels, lag, gebede, trane, hoop, vergifnis, liefde… Gebedsgroep het saam met ons gebid vir ‘n wonderwerk. Dit het wel gebeur – soveel mense is geraak deur jou lewe, soveel siele is gewen vir God.

“Op 28 Augustus 05:10 is jy na jou hemelse woning. Jy het so seergekry. Jou liggaam was stukkend, nou is jy heel en sonder pyn. Ek is so dankbaar vir die tyd wat God my saam met jou gegun het.
“Van skool af saam: Jou lag, jou liefde, ons geselsies, al ons planne, ons twee wonderlike meisies, vakansies, lief en leed. Daar is soveel goeie herinneringe wat ek altyd in my hart sal bewaar.

“Jy was my held, my geesgenoot, my prins op ‘n wit perd, my alles. Glo my, ons het albei ons oomblikke gehad, maar steeds bymekaar en altyd daar vir mekaar. Jy het voluit geleef en was bang vir niks. My hart is stukkend; dit voel of daar ‘n groot gat uit my bors geruk is. Mis jou raad, ek mis jou stem, jou nabyheid by die huis en by die werk. Ek mis jou glimlag, mis jou lag, mis jou langs my, mis jou grappe, mis jou só baie.
LEES OOK: Oorlewende sterk aan ná lugramp
“Ons almal dink ons gaan vir altyd lewe, maar die lewe is onvoorspelbaar. Wees lief vir mekaar, onvoorwaardelik.

“Ek is so bly jy was Jesus se kind. Hy het jou vroeg kom haal. Dankie vir God wat ons regop hou. My oë is net op U gerig. Ons dien ‘n wonderlike, liefdevolle God. Ons tyd is in God se hand.”
Amanda het Bambanani Hydraulics ook bedank, asook almal anders vir hul liefde, gebede en boodskappe.
“Dankie vir my wonderlike familie wat ons deurentyd ondersteun. Hulle het ‘n laer om ons opgeslaan.”




Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.
For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder
For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
