Sélfs die dood kon egpaar nie skei nie
Wegholfvragmotor vermorsel paartjie se VW Polo en dompel Lydenburg in skok

Dewald (31) en Izanie (27) Pretorius, die jong egpaar wat sedert skooldae saam was, is op Vrydag
23 September net voor 13:00 dood toe ‘n wegholvragmotor hulle VW Polo vermorsel het.
Die Pretorius-egpaar was reeds besig om by die verkeersirkel by The Heads Winkelkompleks te draai om verder in Voortrekkerstraat af te ry. Die vragmotor het vanaf die Longtompas oor die verkeersirkel gery en die Polo meters vorentoe tot teenaan ‘n hoop klippe gestoot.
Die egpaar is vermoedelik op slag dood. Die vragmotor het daarna vir die volgende 4 km bykans nog 10 voertuie getref, asook ‘n karavaan.
Also read: Truck carnage aftermath haunts Lydenburg

Die res van die ongeluk het soos ‘n toneel uit ‘n rillerfilm afgespeel. Kringtelevisiebeelde van die Voortrekker- en Viljoenstraatkruising wys hoe die motors in ‘n stofwolk verdwyn en die vragmotor nog voertuie voor hom uitforseer. Verwoesting is deur die dorp gesaai. Die vragmotor se remme het klaarblyklik onklaar geraak. Die bestuurders van die ander voertuie het slegs ligte beserings opgedoen, maar geboue is ook in die proses beskadig.
Die Pretoriusse is in 2018 getroud en was selfs saam matriekafskeid toe.

Dewald het by Northam Platinum Booysendal gewerk en Ilzanie het ‘n naelsalon van haar huis bedryf.
Sy was in Hoërskool Die Wilgers, Pretoria, en het Dewald ontmoet toe sy by haar niggies op Ermelo gaan kuier het, waar die Pretorius-gesin toe gewoon het.
“Dewald en Izanie se liefde was verskriklik mooi. Hulle twee was onafskeidbaar. Daar is berusting in die feit dat hulle saam oorlede is, want ek weet hoe moeilik dit vir die een sou wees wat oorleef het,” het Sarie Coetsee, Izanie se ma, gesê.
Haar skoonsuster, Susan Pretorius, het gesê dat hulle voel dat die paartjie se werk saam op die aarde afgehandel was, en daarom is hulle oorlede.

“Dewald was ‘n baie liefdevolle, positiewe mens, en baie behulpsaam. Ek en my man, John, kinders en familie het altyd gesê dat die twee ‘n werklike mooi huwelik het. Almal het altyd gesê hulle verhouding was ‘n voorbeeld van hoe ‘n huwelik moet wees,” het Susan gesê.
Die gebroke Coetsee- en Pretorius-families het beide gesê hoe hulle Lydenburg se mense waardeer het wat hulle kinders bygestaan het. Hulle het ook baie oproepe van Lydenburgers ontvang wat hulp wou aanbied.
