Laevelders draf 1 000 gaatjies gholf tjoeftjaf kaf
Twaalf plaaslike spelers het 1 000 gaatjies gholf by die Mbombela Gholfklub ten bate van organisasies sonder winsoogmerk gespeel.

Twaalf plaaslike gholfspelers het die rustige Donderdagoggend, 16 Maart, by die Mbombela Gholfklub vroeg-vroeg al onderbreek toe hulle hul eerste balle reeds om 06:00 afgeslaan het.
Hulle het so gemaak om ‘n rekordpoging, naamlik om 1 000 gaatjies gholf in slegs 12 uur te speel, na te jaag.
Die 1 000-gaatjie uitdaging is die breinbaba van Kelvin Fincham van Grace Family Fellowship.
Dit was die eerste keer dat daar gepoog is om so iets te doen. “Ons is die baanbrekers!” het Fincham ná afloop van dié dag gesê.
LEES OOK: Lowveld shutdown: The chaos that wasn’t
Die 12 spelers, wat in groepe van twee gespeel het, het met baie energie en vasberadenheid die taak aangepak, en alhoewel hulle 12 uur gehad het om hul aantal gaatjies te voltooi, het die eerste groep hul eerste ronde binne ‘n uur voltooi. Die vinnige pas was egter van korte duur nadat die spelers besef het hoe goed hulle vorder. Hulle het toe begin om elke dan en wan ‘n draai by die klubhuis te gaan maak vir ‘n verversing of twee.
Eenduisend gaatjies is tjoeftjaf kafgedraf en die uitdaging is reeds om 14:30 voltooi, drie en ‘n half uur voor die beplande spertyd.
Omdat hulle oë reeds in was, het die spelers besluit om aan te hou speel, en daar is op die ou end 1 072 gate gespeel, en 4 835 houe geslaan.
LEES OOK: Orphaned Kaapsehoop foals need your help
“Daar was klagtes oor seer spiere. Boude, tussen ribbe, voorarms, rûe en nekke was lekker styf. Velle op die vingers was rou gespeel,” het Fincham gesê. Sommige van hulle het selfs gedreig dat hulle genoeg gholf gespeel het vir die volgende jaar, terwyl ander gesê het dat dit toe nie so erg was soos hulle gedink het nie.
Die spelers het nie net die 1 000 gaatjies gespeel om ‘n nuwe rekord op te stel nie, maar ook vir ‘n goeie doel. “Ons poog om finansiële ondersteuning te bied aan plaaslike organisasies sonder winsoogmerk soos Grace Baby Haven, Ministry on Wheels en Grace Family Fellowship.” Fincham het gesê dat hulle tot dusver R210 000 ingesamel het en dat daar nog borge is wat gedurende dié week betalings gaan maak.
Op 17 Maart het Grace Family Fellowship ook ‘n gholfdag vir die publiek aangebied, en meer as 90 spelers het daaraan deelgeneem. “Die gholfdag was baie suksesvol met dié dat almal wat deel van die projek was, lekker kon saamspeel, eet en dans. Dit is lekker om op so ‘n dag te sien hoe die gemeenskap van Nelspruit saamwerk vir ‘n groter doel,” het Fincham gesê.
