Ouerskap bring TV-legende Ian Roberts na die Laeveld
Ian Roberts woon nou al 'n paar jaar in die Laeveld. Hy gesels met Laevelder oor sy lewe in Lydenburg en hoe hy hier beland het.
Ná grootwordjare in die Oos-Kaap en loopbaan- en grootweesjare in die Kaap en Johannesburg, is die veteraanakteur, skrywer en sanger, Ian Roberts (70), nou ‘n Laevelder.
Sy tweelingkinders, Lynn-Sophie en Ian-Keith (3), was die hoof rede vir sy permanente skuif na hierheen.
Roberts vertel dat hy ‘n meisie, Francoinette le Roux, op Lydenburg ontmoet het, en dat hulle saam begin woon het. Die paartjie het twee keer in die Tsitsikamma-omgewing gaan kamp. Tydens die tweede kampsessie het sy baie sleg begin voel. Hulle het die vakansie kortgeknip, huiswaarts gekeer en ‘n dokter gaan besoek.
LEES OOK: Het jy al vir die Nelspruit Eisteddfod ingeskryf?
‘n Tydjie daarna het hy ‘n oproep van haar ontvang. “Sy sê vir my op die foon (ek is in Joburg en sy is hierso in Lydenburg): ‘Luister, staan jy of sit jy?’ Ek sê nee, nee, ek staan, maar ek sal gaan sit, hoor. En ek gaan sit en sy sê: ‘Ek is swanger.’
“Ek sê, ‘My wêreld, dáár is nou vir jou ‘n miracle of note, nè?’
“Maar toe omtrent twee of drie dae later bel sy my weer en sy sê, ‘Staan jy of sit jy?'”
Toe kom die nuus dat die miracle of note ‘n dubbele een is. Daar en dan het hy besluit om te trek.

Die tweeling is nou wel nie sy eerste kinders nie, maar hy onthou weer die woorde van ‘n vriend toe hy die nuus met hom deel dat hy pa gaan word:
“Trou is f*kk*l. Die dag wat jy jou eerste kind kry, is jou lewe nooit weer dieselfde nie.”
Dit was ook so, en met die nuwe tweetjies leer hy ook baie.
Sy loopbaan het op die verhoog begin, en in daardie jare sê hy hy was nog arrogant wanneer dit by televisie gekom het. “Ons het gevoel die movie-akteurs is cop-outs. Jy is een keer op die verhoog. As die gordyne oopgaan, is jy in jou malle merrie in as iets verkeerd gaan.”
LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se goue Ashley doen dit weer!
Tog het hy later sy pad na die kassie gevind en ook nou op die verhoog, as hoofsanger van die gewilde Radio Kalahari Orkes.
In hierdie, of eintlik enige kapasiteit, het Roberts geen bekendstelling nodig nie. In en om Lydenburg maak hy nou steeds musiek en skryf hy ook aan sy lewensverhaal, wat tydens Covid-19 sy ontstaan gekry het.
Roberts is ‘n man wat glo in harde werk en toewyding in dit wat jy doen. “Nie trots nie, commitment,” sê hy.

En dit probeer hy in alles uitleef. Self as dit kom by rus vir die siel.
Hy beskou homself as ‘n watermens, eintlik bedoelende die see, maar hy reken Lydenburg se natuurskoon en watervalle is meer as genoeg vir sy sielsrus. “Ek het al watervalle ontdek en dan kan jy voel, niemand was al hier nie.”
LEES OOK: Hospice Witrivier benodig vrywillige verpleegkundiges
Ook die diere help vir die siel. “Ek het baie vriende wat oorsee getrek het net na hulle skoolopleiding. Elke keer as ek hierdie boodskappe van hulle sien, dan kry ek hulle so jammer. Hulle kan nie sê vanoggend het ek in die veld gaan stap en die bobbejane het my gegroet nie,” vertel hy met ‘n meegande bobbejaangroet. “Imagine jy woon in Engeland; waar gaan ‘n bobbejaan jou kom groet?”
Dus is hy vir tyd en wyl op Lydenburg gevestig. Wat ook al volgende gebeur, of dit nou is dat hy draaiboeke skryf wat moontlik in TV-reekse ontaard, sal hulle van daar af hulle opsies oorweeg.
