Mbombela-tannie innig dankbaar vir hulp ná slaggatongeluk
Mbombela het sy mooi kant gewys toe talle mense vir tannie Lanie de Jager (85) gehelp het ná sy haar kar afgeskryf het.
Ná ‘n ongeluk waarin haar motor afgeskryf is, is Lanie de Jager (85) verstom oor die goeie mense wat daar nog in dié stad is.
“Ek weet nie waar almal uitgepeul het nie,” sê sy oor die ongeveer 12 mense wat haar tot hulp gesnel het.
Dit ná sy eers deur ‘n slaggat naby Lowveld High is, beheer oor haar voertuig verloor het, en in ‘n heining vasgery het.
Alhoewel sy ontsteld is oor die slaggat se bestaan en die nagevolge wat dit vir haar kar ingehou het, is die belangrikste van hierdie ervaring haar dankbaarheid teenoor haar barmhartige samaritane.
LEES OOK: Bekende dorpenaar van Sabie hof toe oor vuurwapen in familielid se kar
“Na die ongeluk klim ek uit… Man, dis eintlik waaroor dié gaan. Ek wil die mense bedank wat so wonderlik was. Hierdie Nelspruiters; ek het dit nie besef nie en ek is al meer as 50 jaar hier, maar ek sê vir jou, dit is fantastiese mense.”
Uit die 12 mense het sommiges om hulp probeer bel terwyl ander met die kar doenig was. Die tannie onthou veral vier vroue wat daar was.
“Ek weet die enetjie se naam is René, dis al.”
Op die ou einde, sê sy, was Van Wettens daar om ‘n plan met die motor te maak. “Toe hulle die kar daar weg het, toe sê die vroue, ‘Tannie, kom ons vat jou nou huis toe. Die kar gaan weg.’
“En hulle bring my huis toe en hulle vat die goed uit die kar uit wat ek op pad by die tandarts gekoop het. Weet jy, die wonderlikste mense, hulle kom pak die koue goed vir my in die yskas, want ek is in ‘n dwaal. Ek was in so ‘n geskokte toestand, ek kon nie hulle name kry nie.”
LEES OOK: Hoërskool Nelspruit betower met ‘n musiekreis deur tyd
Sy het die kar al vir meer as 20 jaar en sê sy het bitter mooi na hom omgesien. Soveel so dat mense haar al gevra het of dit háár motor is, en hom selfs al wou koop. “Maar dit gaan nie oor die kar nie, dit gaan oor die dankbaarheid en oor hoe wonderlik die mense van Nelspruit is.
“Ek wou eintlik net ‘n dankie-briefie ingesit het om die mense te bedank wat my gehelp het.
“Ek voel so soos ‘n wurm. Ek kan nie een dankie sê nie. Ek weet dit is René, maar waar is René?
“Ek kan nie bel en baie dankie sê dat hulle my so gehelp het nie.”
