Gemeenskap dra familie in gebede ná wrede moorde op Ohrigstad
Die gemeenskap het op Saterdag 10 Junie van Hennie (77) en Anneke Claassen (76) afskeid geneem.
Dié twee hegte vriende is op 3 Junie in hul onderskeie huise by die Eggo-grotte vermoor. Hulle is beide wreed gemartel en aan die brand gesteek.
Meer as 400 familielede en vriende het buite die grotte se hotel onder hoë skadubome van hulle afskeid geneem.
‘n Gesamentlike diens is deur ds. Kobus Sandenbergh, ‘n familievriend van Pretoria, gelei. Deel van sy boodskap was dat die twee vriende deur God se genade hul lewensreis saam kon afsluit.
As hegte vertroueling na die dood van Anneke se man, dr. Daan Claassen, in 2000, het dié twee skouer aan skouer gestap en op mekaar gesteun.

“Ek weet dit sou vir my ma baie moeilik gewees het om sonder oom Hennie op die plaas te wees. Hy wou nooit my ma te lank alleen los nie,” het Jan-Daniël Claassen, Anneke se seun, gesê.
Hy het namens hom en sy twee susters, Carla le Roux en Carmen Human, ‘n roerende huldeblyk aan hulle ma gelewer.
Sy is beskryf as nederig, opreg, liefdevol en ‘n mens met ‘n hart van goud.
Dieselfde woorde is ook gebruik om Hennie te beskryf. Sy kinders het in ‘n huldeblyk in sy begrafnisbrief geskryf: “Diep in ons harte weet ons God se hand het ons pappa styf vasgehou toe die noodlot kom klop het. Pyn was daar beslis, maar Jesus het dit gou verdoof en hand aan hand saam met Pappa hemel toe gestap.”
Burgerregteorganisasies en politieke partye het ná die moorde hul afgryse oor misdaad in die land uitgespreek. AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, Jacques Broodryk, het gesê die organisasie eis dat plaasaanvalle as ‘n prioriteitsmisdaad verklaar word.
Reaksie-eenhede en plaaswagte van Lydenburg, Ohrigstad, Burgersfort, Hoedspruit en Tzaneen het saam met die Limpopo-polisie aan die soektog na die verdagtes deelgeneem.

Die alarm is teen 14:30 die dag van die moorde op die plaas gemaak toe ‘n verdagte met ‘n klapmus weghardloop. Twee toergroepe was ook ten tye van die aanval by die grotte, en ‘n toerleier het ook hierdie verdagte gewaar. Anneke se lyk is in haar gang gevind – ‘n gedeelte van die gang was reeds aan die brand. Hennie se huis was ten volle aan die brand.
K9-spoorsnyhonde van die Hoedspruit Plaaswag het vanaf Saterdagmiddag tot 03:00 die Sondagoggend die verdagtes se spoor gevolg, tot teen die nabygeleë informele nedersetting, die Mokutong-trustgebied.
‘n Koor plaaswerkers en inwoners van Mokutong het ná die preek en huldeblyke twee sangitems gelewer.
‘n Verdagte (30) is op Woensdag 14 Junie in Tembisa, Tshwane, gearresteer.


