90 jaar van Bybel in Afrikaans op Lydenburg gevier
Die eerste Afrikaanse Bybel is in 1933 gepubliseer. 'n Spesiale diens word by die NG Moedergemeente Lydenburg gehou om dit te vier.
Op 27 Augustus om 09:00 word ‘n diens deur ds. Charl de Kock en ds. Johan Koen jr. by die NG Moedergemeente op Lydenburg gelei.
Dit is presies 90 jaar nadat die eerste volledige Afrikaanse Bybel op Sondag 27 Augustus 1933 landswyd in gebruik geneem is.
Op 29 Mei 1933 het die Carnavon Castle Kaapstad binnegevaar met die eerste besending van 10 000 eksemplare aan boord. Sedertdien is die Bybel se nuwe vertaling in 1983 vrygestel.
Lees ook: Dopper-mark gaan ‘n groot lekkerte wees op Lydenburg
Die volgende inligting is deur die Bybelgenootskap vrygestel oor die ontwikkeling van die Bybel in Afrikaans:
Die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes kon in 1933 nie meer Nederlands verstaan nie. Die Nederlandse Statebybel was vir meer as drie eeue as Bybel in Suid-Afrika gebruik. Die Bybel het vir menige ’n geslote boek geword.
Gelowiges het verlang om in hulle eie spreektaal die Bybel te lees. Hierdie taak het op die skouers van ds. J. D. Kestell, ook bekend as ‘Vader Kestell’, dr. H. C. M. Fourie, wat grondig onderlê was in die Hebreeuse taal, prof. B. B. Keet, wat van sy studentejare af hom vir die Bybel in Afrikaans beywer het, prof, E. E. van Rooyen, die teoloog, en dr. J. D. du Toit, algemeen bekend as ‘Totius’, geval.
Vir meer inligting en die geskiedenis van die Afrikaanse Bybel, besoek www.bybelgenootskap.co.za.
