Twee plaasaanvalle binne die bestek van vyf dae het die plaaslike gemeenskappe geruk.
Op Donderdag, 1 Mei, is die bebloede liggaam van Robert Stoltz (78) in sy plaashuis in die Roossenekal/Lydenburg-distrik aangetref.
Die familie van Stolz het verlede Donderdag op sy lyk afgekom. Daar word gemeen dat hy met ’n skerp voorwerp, moontlik ’n panga, aangerand is. Hy het aan sy beserings beswyk.
Sy selfoon is glo tydens die moord as vermis aangemeld. Sy voertuig, ’n blou Chery, is glo ook gesteel, maar is op die R555 (Steelpoort-pad) gevind waar dit vermoedelik deur die aanvallers gerol is.
Stoltz se moord is deur die gemeenskap as brutaal beskryf. Die aantal aanvallers is nie bekend nie.
Skaars vyf dae later op Maandag, 5 Mei, is die 64-jarige Miems Maritz, née Stoltz, van die plaas Hartlus tydens nog ’n aanval gewond.
James Language, die veiligheidsbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika, TLU se Oosstreek, het beide voorvalle aan Steelburger/Lydenburg Nuus bevestig.
Volgens Language was daar drie aanvallers by Maritz se aanval betrokke.
Lees ook: Lydenburg K9 unit raids illegal factory
“Sy woon alleen op die plaas. Die mans kon genadiglik nie toegang tot die plaashuis verkry nie, as gevolg van die veiligheidshek en diefwering. Hulle het wel van die vensters gebreek in ’n poging om by die huis in te kom,” het Language aan die koerant verduidelik.
Volgens Language is die omliggende boeregemeenskappe en die SAPD dadelik gemobiliseer. Hy het bevestig dat beide aanvalle in dieselfde omgewing op die R577 plaasgevind het.
“Maritz is van buite die huis deur die aanvallers met ’n windbuks in die kop geskiet. Sy is Middelburg Hospitaal toe geneem vir behandeling. Haar toestand is bestendig.”
Sy is volgens Language in die gesig en agterkop geskiet.
Language het gesê dat meer inligting beskikbaar sal wees namate die ondersoek vorder. “Op dié stadium is die ondersoek ’n sensitiewe saak.”
Hy het bevestig dat niks tydens die aanval teen Maritz gesteel is nie. Beide voorvalle is deur Limpopo SAPD bevestig.