Hard newsNews

Huurders, opsigter sit vas oor munisipale huise

Die munisipaliteit is besig met 'n opname van die eiendomme om nuwe huurooreenkomste op te stel.

NELSPRUIT – Mbombela Munisipaliteit is steeds besig met ‘n opname van hul behuising in Maggiesdal, ten einde die laaste nuwe huurooreenkomste met inwoners aan te gaan. Dit kom na vele klagtes van inwoners oor die toestand van hul huise.

Daar is vroeër berig dat van die huurders met ‘n opsigter koppe gestamp het oor huurgeld en herstelwerk. Mnr. Hannes de Kock, DA-raadslid vir dié wyk, het die week bevestig dat hy die raad se versekering het dat die opsigters by Maggiesdal besig is met die opname.

Mbombela het dié eiendom sowat vyf jaar gelede al gekoop, en het in baie gevalle met die huurders se bestaande ooreenkomste met die vorige eienaars voortgegaan. Die munisipaliteit ontken egter dat hulle klagtes van die inwoners ontvang het.

Die week het nog ‘n ontevrede inwoner na vore getree. Me. Heleen Brummer woon al sedert 2001 op Maggiesdal toe dit nog privaat-eiendom was.

Die area ondervind al ‘n geruime tyd probleme met hul watertoevoer en water moet aangery word. “Daar sal soms vir weke geen probleme wees nie, en die volgende dag is daar niks,” het sy gesê.

Sy betaal R2 600 vir ‘n tweeslaapkamerhuis waar sy saam met haar man en seuntjie woon. Volgens Brummer, lek haar dak en as sy kla, sê die opsigter, óf daar is nie geld nie, óf hulle sal dit kom regmaak, maar niks gebeur nie.

Sy sê, “Dis asof ‘n mens uitgebuit word omdat jy arm is en nie ‘n beter plek kan bekostig nie”.

Opvolg: 30 Julie

Jare na Mbombela eiendom in Maggiesdal gekoop het, is die munisipaliteit uiteindelik besig om hul huurkontrakte te hersien. Daar is verlede week berig dat van die munisipale huurders met die opsigter oor huurgeld, herstelwerk en hul elektrisiteitstoevoer vasgesit het.

Sommige inwoners het gekla dat die opsigter hul elektrisiteitstoevoer afgesny het, bestaande skade aan hul eiendom nie aangespreek het nie, en hulle elke maand ‘n nuwe huurkontrak gegee het. Die opsigter het weer verduidelik dat huurders se water- en ligte rekeninge by hul huur ingereken is, en as hulle agterstallig is hulle outomaties nie vir elektrisiteit betaal nie.

Hy het ook aangevoer dat hy dit op die stadsraad se aandrang afgesny het en het kennis van nuwe huurkontrakte ontken. Die munisipaliteit het ook ontken dat hulle enige klagtes rakende tekortkominge aan die geboue ontvang het, maar gesê dat daar beplan word dat huurders voortaan hul huur in ‘n bankrekening sal inbetaal, eerder as om dit aan die opsigter te oorhandig.

Verder is die munisipaliteit besig om’n opname van die eiendom te doen met die doel om nuwe huurkontrakte op te stel. “Dit is ‘n belangrike en noodsaaklike opname,” het mnr. Hannes de Kock, DA-raadslid vir die wyk, gesê. “Omdat die munisipaliteit die eiendom met bestaande huurders oorgeneem het, is daar in baie gevalle doodeenvoudig net met die ou kontrakte voortgegaan. Dis nie aanvaarbaar nie, aangesien wetgewing vereis dat daar ‘n kontrak tussen die huurder en die munisipaliteit bestaan.”

Die opname van die eiendom behels die tel van kamers en ondersoek na bestaande probleme by elke eiendom ten einde sinvolle huurbedrae te bepaal en nuwe kontrakte op te stel. Volgens De Kock sal hy hierdie week nog met die raad vergader om die vordering van die opname te bespreek.

Opvolg: 23 Julie

Na sommige inwoners van Mbombela se huurhuise by Maggiesdal gekla het oor die opsigter, het die munisipaliteit die week ontken dat hulle enige klagtes rakende tekortkominge aan die geboue ontvang het.

Mnr. Martien Roberts, ‘n opsigter wat aangestel is om huurgeld te verhaal en vir dienste soos water en ligte te betaal, word deur mnr. Pieter Kruger en me. Sophia Vosges se huishoudings daarvan beskuldig dat hy hul elektrisiteitstoevoer afgesny het. “Die munisipaliteit is bewus daarvan dat Roberts dit gedoen het omdat hulle vir twee maande (Mei en Junie) nie hul huur betaal het nie,” het mnr. Joseph Ngala, die woordvoerder gesê.

Hy het daarop gewys dat dié geld aangewend word om dienste soos elektrisiteit en herstelwerk te voorsien. Tog voer hierdie inwoners aan dat hulle juis ophou betaal het, omdat ‘n gebreekte venster en gekraakte vloer nog nie herstel is nadat hulle drie maande gelede ingetrek het nie.

Ngala sê egter dit is wetlik afdwingbaar vir inwoners om maandeliks hul huur te vereffen. “Daar is ongelukkig geen bepalings in hul ooreenkomste wat inwoners toelaat om nié hul huur te betaal as gevolg van strukturele probleme met hul huise nie,” het hy verduidelik.

“Dit is wel die raad se verantwoordelikheid om enige gebreke aan die huise aan te spreek, maar ons het geen klagtes ontvang nie.” Tog het Ngala erken dat Roberts wel vir Kruger R1 000 terugbetaal het, nadat hulle glo oorbetaal het.

‘n Nuwe stelsel is besig om geïmplementeer te word en alle inwoners sal nuwe huurooreenkomste moet onderteken, maar hulle sal dan die geld in ‘n rekening inbetaal, direk aan die munisipaliteit. Ngala het bygevoeg dat dat hulle onderneem om ‘n deeglike inspeksie van elke huis te doen, voor die nuwe kontrakte opgestel word.

NELSPRUIT – Inwoners van Mbombela-munisipaliteit se huurhuise by Maggiesdal is bitter ongelukkig oor die behandeling wat hulle van die opsigter kry. Die inwoners van twee van die wonings beskuldig mnr. Martien Roberts daaraan dat hy elektrisiteit van hulle weerhou.

Mnr. Pieter Kruger, sy vrou, baba, skoonma en swaer het in April by een ingetrek. Hulle het die R2 000-deposito betaal en vereffen maandeliks dieselfde bedrag.

Hulle het egter nie verlede maand die huur betaal nie. Volgens Kruger se skoonma, me. Jossie Maree, is dit omdat die huis in so ‘n swak toestand is. “Daar is nie ‘n venster in die badkamer nie, die vloer is gekraak en die heining voor is vrot,” het sy gesê.

Roberts het toe die elektrisiteit na hul huis en dié van die gesin se buurvrou, me. Sophia Vosges wat ook agterstallig was, afgeskakel. Hy het gesê dat hy volgens instruksies van die munisipaliteit opgetree het wat glo die krag laat afsit het omdat die bedrae by die huur ingereken is.

“As hulle nie betaal nie, betaal hulle ook nie vir elektrisiteit nie,” het Roberts gesê. Volgens hom is die huis waarin Kruger-hulle woon, se huur juis R500 minder omdat die vloer gekraak is.

Maree en Vosges voer egter aan dat hulle ‘n elektrisiteitrekening van R14 000 ontvang het. “Hoe kan ons binne ‘n paar maande so ‘n hoë rekening kry? Ons het nie eens ‘n tuimeldroër nie,” het Maree gesê.

Roberts ontken dit en sê hy het die kragtoevoer weer aangeskakel nadat die agterstallige huur betaal is. Hy het ook kennis van hul nuwe huurkontrak ontken. Dié kontrak, wat die verslaggewer self gesien het, bevat geen huurbedrag nie.

“Ons het so drie weke gelede ‘n vergadering met die munisipaliteit oor nuwe kontrakte gehad, maar het nog geen terugvoer gekry nie,” het Roberts gesê. “Ek weet niks daarvan af nie. Dis ‘n verskriklike ondankbare werk om ‘n opsigter te wees. Dis iets uit die bose.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button