SABIE – Dit was die grootste getal inwoners wat in ‘n lang tyd vir ‘n vergadering opgedaag het, sê Debbie Möller, dit is net jammer dat die sameroeper nie ook daar was nie. Ontstoke inwoners beskou dit as ‘n belediging dat Thaba Chweu-amptenare bloot net nie vir die publieke deelname vergadering om die dorp se geïntegreerde ontwikkelingplan te bespreek, opgedaag het nie. Meer as 50 inwoners het Maandag vir die vergadering in die dorpsaal bymekaargekom.
‘n Oorblufte wyksraadslid, mnr. John Lukhuleni, het die mense probeer kalmeer maar sonder veel sukses. Die doel van hierdie vergadering was om terugvoering te gee oor die vordering wat in terme van dorpsontwikkeling in die afgelope drie maande gemaak is.
“Iemand moet ons vrae oor die raad se finansies en veral die Eskom krisis beantwoord,” het mnr. Guillym Rees gesê. Hierbenewens, het ‘n ander man luidkeels aangevoer dat inwoners ook wil weet watter beoogde ontwikkeling nie plaasgevind het nie en soek hulle insae in die finansies van die munisipaliteit.
Volgens mnr. Themba Mnisi, Integrated Development Plan (IDP)-bestuurder vir Thaba Chweu Munisipaliteit, is meer as een amptenaar aangesê om die vergadering by te woon om sake rakende finansies en paaie aan te spreek. Hy kon nie verduidelik hoekom niemand opgedaag het nie.
Die Sabie-sakekamer is tans met samesprekings besig om ‘n nuwe datum vir hierdie vergadering vas te stel en sal die inwoners hieromtrent inlig.
BLOCK
Volgens die GOP-prestasieverslag in Laevelder se besit, is geen Sabie-verwante projekte vir 2012/13 met meer as 50% voltooi nie. Van die projekte sluit die opknapping van beide die water- asook die rioolverwerkingsaanlegte, die omheining van die begrafplaas, die aanbouing van sale by die Sabie Hospitaal, die regmaak van straatligte, verbeteringe aan die Sabie-karavaanpark en die opknapping van gemeenskapsale en hostelle in Simile en die Sabie munisipale kantore in.
