GRASKOP – Thaleda, die agentskap wat ekonomiese ontwikkeling vir Thaba Chweu Munisipaliteit (TCM) moet bewerkstellig, meen hulle het die oplossing gevind om die eens pragtige Graskop Resort in ere te herstel. Tog bly daar talle onbeantwoorde vrae rondom die beoogde planne na vandeesweek se aankondiging dat die tender aan mnr. Elliot Marobela van Sabie toegeken is.
Die oord, wat vir jare as die spreekwoordelike goue gans van die dorp beskou is, is so suksesvol deur die eertydse stadsraad bedryf, dat die opbrengs daaruit gebruik is om al die paaie te teer, só vertel 'n inwoner. Die afgelope paar jaar het die Graskop-oord, met 54 hutte en 100 kampeerplekke, só gehawend geword dat toeriste dit nou skaars kan waag om hier tuis te gaan.
Hoe beredder 'n sukkelende munisipaliteit soos TCM die saak? Hulle glo dat die oplossing daarin lê deur 'n publieke private ooreenkoms met 'n besigheidsman soos Marobela te sluit. Syne was een van vyf tenders om die oord op te knap en te bedryf, en sy maatskappy, Sre and Jre Investments and Trading (Pty) Ltd, is deur Thaleda gekies op grond van sy besigheids- en operasionele planne, vaardigheidsontwikkelingmoontlikhede, finansiële plan, risiko-oordrag en die plaaslike ekonomiese ontwikkelingsgeleenthede wat daarin opgesluit lê.
Marobela sê dat hy al sedert 2006 meer as een voorstel aan TCM gestuur het met betrekking tot die bestuur van die oord. “Ek was verbaas toe ek uiteindelik hierdie keer die nuus kry dat my tender suksesvol was,” sê hy. Sy visie is om 'n dinamiese onderneming daar te stel wat weereens die hart van die gemeenskap gaan word.
Na 'n uitgerekte gesprek met hom, asook talle navrae aan Thaleda, is daar steeds onduidelikheid oor die volgende:
• Spesifikasies ten opsigte van die opgradering wat per fases gaan plaasvind
Marobela beskryf drie fases vir die herstel van sekuriteit, toegang, administrasiegeboue, algemene herstel en herstel van akkommodasiegeriewe. Hy verduidelik egter nie presies wat die “herstel” gaan behels nie. Tog het hy aan Laevelder gesê dat 38 chalets en kampeerplek asook swemgeriewe met die heropening van die oord in April 2014 beskikbaar sal wees.
• Die beraamde koste per eenheid vir opgradering
'n Besigheidsman van Graskop sê hy het 'n beraming van R100 000 per eenheid bepaal in 'n afsonderlike voorlegging wat hy aan TCM gemaak het. Volgens hierdie berekening sal die operateur dus ongeveer R5 miljoen benodig om 50 chalets op te knap. Werk moet gedoen word aan dakke, geysers, plafonne en vensters, en die chalets moet volledig toegerus word.
• Die totale kapitale inspuiting wat in die tenderaanbieding voorgestel is
Marobela bied ongeveer R1,4 miljoen in kapitaal. Hy verwag 'n verdere R3,1 miljoen van beleggers. Alhoewel hy bevestig het dat hierdie organisasies aan boord is, kon hy nie sê wie die geld gaan bybring nie. Tog het hy in 'n geskrewe kommunikasie aangedui dat dit finansieringskuld is. Gebreekte teëls in die meeste van die storte, gesteelde krane, wasbakke en baddens moet in meeste van die ablusieblokke vervang word. Swembadpompe en grasdakke moet ook vervang word, en elektrisiteitspunte by staanplekke is beskadig. Volgens Marobela gaan hy die administrasieblok en ingang tot die oord verbeter om dit meer vriendelik en veilig te maak.
Langtermynplanne sluit die opening van 'n familie-restaurant en uitgebreide konferensiefasiliteite in. Die saal wat tans deur 'n kerkgroep gebruik word op Sondae kan nog steeds vir hierdie doel aangewend word, vir tyd en wyl, meen hy.
• Op watter basis is Marobela se voorlegging bo die van ander gekies
Volgens me. Sindiswa Mathebula van Thaleda was slegs twee voorleggings op grond van funksionele kriteria goedgekeur. Die een tenderaar, die Mpumalanga Regional Training Trust (MRTT), wat tans die Royal Hotel op Pilgrim's Rest bestuur, is 'n staatsinstelling en dus gediskwalifiseer. Laevelder kon nie toegang tot die bedryfs- of finansiele planne van enige van die bieërs verkry nie.
• Tot in watter mate openbare raadpleging plaasgevind het
Die Graskop Sakekamer se voorsittter, me. Babsie McNelly, sê sy is nie oortuig dat genoegsame konsultasie met die dorp se inwoners gedoen is nie. Mathebula meen weer dat alle regulasies in terme hiervan gevolg is.
• Die finansiele projeksies vir die oord, insluitende die personeel wat benodig gaan word
Volgens die tenderdokumente verwag TCM 'n bedrag van R100 000 per maand uit die bedryf van die oord. Geen insae in hoe Marobela beoog om 'n inkomste uit die oord se bedryf te maak is aangebied nie. Hy het wel 'n volledige bemarkingsplan, en klaar 'n sterk span van vyf mense met altesaam 25 jaar ondervinding in die bedryf het, om hom by te staan. Hy het self die gasvryheidsleer oor die afgelope 21 jaar geklim – eers as 'n sekuriteitswag by 'n Overvaal-oord tot algemene bestuurder van Forever Resorts se Witrivier Hotel. Hy is tans die eienaar van die Country Kitchen restaurant en gastehuis in Sabie.
BLOCK
Gaan kyk na foto's van die huidige toestand van die oord. Stel gerus jou vrae rakende die saak by hierdie berig op lowvelder.co.za
END BLOCK
