
Die verwarring rondom plaasaanvalle- en moorde word deur die staat veroorsaak aangesien daar sedert 2007 nie statistiek hieroor gehou word nie, aldus dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van polisie vir die Vryheidsfront Plus (VF Plus).
“Syfers van die SA Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) en Transvaalse Landbou-Unie (TLU) wat in Oktober gepubliseer is, dui daarop dat plaasaanvalle toegeneem het en dat daar meer voorvalle landwyd was as in 2012. Volgens die ISS word 120 uit elke 100 000 boere vermoor, teenoor die sowat 31 uit 100 000 gewone landsburgers en 54 uit 100 000 polisielede.”
Groenewald sê ook dat die VF Plus al lank reeds besig is om by die regering aan te dring om landelike misdaad tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar.
“Niemand kan betwis dat ons landbou-gemeenskap swaar deur misdaad geraak word nie”
Die SA Instituut vir Rasseverhoudinge het al by monde van dr. Frans Cronjé gesê dat daar tot sewe plaasaanvalle plaasvind vir elkeen waaroor berig word.
Groenewald sê verskeie organisasies hou hul eie statistiek oor plaasaanvalle, maar dit word hoofsaaklik van mediaberigte verkry.
Verder sê hy dat dit ‘n onakkurate manier is om statistiek te versamel aangesien die media nie oor elke misdaad berig nie en hulle inligting vanaf die polisie nie altyd aantoon dat die voorval op ‘n plaas plaasgevind het nie.
“Ons kan nie genoeg klem daarop lê dat druk vanuit alle oorde op die regering geplaas moet word om misdaad as die hoogste prioriteit te beskou en dienooreenkomstig op te tree nie,” sluit Groenewald af.
