
LYDENBURG – ‘n Jong skoonheid van die dorp is onlangs as een van die finaliste vir die Junior Mej. Suid-Afrika asook vir die Face of South Africa 2014 aangewys.
“Sy is tans in die top-10 en maak op stemme van die publiek staat,” verduidelik ma van Anna-Marie Labuschagne, Carla.
Labuschagne is in Nigel gebore en dit is waar haar liefde vir hoë hakke, toe sy slegs twee jaar oud was, gekweek is nadat haar dagmoeder vir haar ‘n paar plastiek Barbie-hakskoene gegee het. “Ek het van kleins af my ma se hakskoene gesteel en daarmee rondgeloop en onder my bed weggesteek. Ek wou nog altyd ‘n model wees, maar my ma het gesê ek is te jonk om aan dié industrie blootgestel te word.”
Teen 2012 het dié gesin na Lydenburg verhuis en haar ma het ingestem dat sy by Designer Models aansluit. Sy is byna onmiddellik raakgesien en het in dié kort tydperk reeds verskeie titels ingepalm wat onder andere Mej. Bene Suid-Afrika in 2013 insluit. Sy was ook die eerste finalis vir MPSAmag, ‘n aanlyn modeltydskrif en een van slegs twee wat tydens die Miss Summer Heat gekies is om aan International Talent Showcase deel te neem.
Die gr. 11-leerling van Hoërskool Lydenburg verduidelik egter dat daar ‘n reuse-wanpersepsie rondom die modelwêreld bestaan. “Mense dink altyd dat dit maklik is en dat dit bloot gaan oor om mooi te lyk. Dit is glad nie die geval nie. Dit verg baie tyd, oefening, harde werk en is veral stresvol.” Volgens Labuschagne moet jy goed voorbereid wees vir kompetisies en weet wat van jou verwag word, maar jy moet ook onvoorsiene omstandighede kan hanteer omdat dinge nie altyd vlot verloop nie. “Ek sal nooit vergeet hoe my skoen in die verhoog vasgehak het tydens die Face of Riverside nie. Ek kon dit nie uitkry nie en ek moes eenvoudig maar op my knieë sak om my skoen uit te haal voor ek verder kon loop.” Anna-Marie het steeds ‘n tweede plek verower en dit was waarskynlik ook haar ma se wyse woorde wat haar in staat gestel het om daaroor te lag. “My ma sê altyd, ‘keep your head, heels and standards high’ en dis beslis van die beste raad wat ek nog gekry het.” Labuschagne wil graag eendag in ‘n BCom-rigting studeer, maar beplan gelukkig nie om die loopplank te verlaat nie. “‘n Mens moet kritiek kan hanteer en jy moet ook weet hoe om dit as opbouende kritiek te aanvaar. Dit is baie stresvol voor mens op die loopplank klim en menige kere voel ek bietjie bang en bewerig, maar sodra ek loop, doen ek wat ek geoefen het.
“Ek sou nie sê mens sal heeltemal gewoond raak daaraan nie, maar dit raak elke keer makliker en sodra ek klaar geloop het, wil ek dit weer doen.”
Labuschagne wil graag eendag aan Mej. Suid-Afrika deelneem en hoop ook om oorsee te gaan modelwerk doen. Om vir Anna-Marie te stem vir die Face of South Africa kan J45 aan 47087 teen R2 geSMS word.
Die Junior Mej. SA vind vanaf 1 tot 4 Mei in Pretoria plaas.
Labuschagne bedank graag haar familie asook haar afrigter, Ronel Joubert, vir al hul onder-steuning.
