Hard newsNews

Waarskuwingskote laat veldwagter in moeilikheid beland

Volgens mnr. Isaac Phaahla, woordvoerder vir SANParke, het die man tydens 'n dissiplinêre verhoor dié week verklaar dat die toeriste hom genader en versoek het om die olifant uit die pad te kry.

SKUKUZA – ‘n Veldwagter van die Nasionale Krugerwildtuin het hierdie week ‘n finale skriftelike waarskuwing van SANParke ontvang nadat hy op 20 Mei waarskuwingskote afgevuur het om ‘n olifant te verwilder.

Die insident het omstreeks 11:30 op die pad naby Krokodilbrug plaasgevind. Die veldwagter is deur besoekers verkla.

Volgens mnr. Isaac Phaahla, woordvoerder vir SANParke, het die man tydens ‘n dissiplinêre verhoor dié week verklaar dat die toeriste hom genader en versoek het om die olifant uit die pad te kry. Hy het met die “toestemming” van die besoekers skote afgevuur nadat sy ander pogings om die dier skrik te maak, misluk het. “Ons aanvaar nie hierdie verduideliking nie, sê Phaahla, wat byvoeg dat die man, wat 22 jaar se ondervinding het, sy eie diskresie en kennis moes gebruik het om die situasie te hanteer.

Die skuldige is steeds in besit van ‘n vuurwapen aangesien hy dit in die uitvoering van sy pligte nodig het, verduidelik Phaahla. Maar indien hy by ‘n soortgelyke voorval betrokke is, sal hy summier afgedank word.

Volgens Phaahla was dit die eerste geval van hierdie aard in tien jaar. Hy sê ook dat SANParke enige besoekers wat negatief deur die insident geraak is, om verskonig vra. Hy versoek dat mense die paraatheid wat hulle in die wildtuin toon, oordra na alle aspekte van hul lewens om wetteloosheid oor die algemeen in die kiem te help smoor. Daar is telefoonnommers op toeganspermitte wat gebruik kan word om enige voorvalle binne die grense van die wildtuin aan te meld.

Lees die oorspronklike berig hier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button