
MBOMBELA – ‘n Ongeluk tussen ‘n Ford Fiesta en ‘n Buscor-bus het Maandagoggend ‘n hewige verkeersknoop op die R40 veroorsaak. ‘n Derde voertuig is ook getref, maar niemand is ernstig beseer nie. Die verkeer het van Riverside Mall tot verby die Rampbestuursentrum gestrek. Volgens die ma van die Ford-bestuurder was haar dogter op pad werk toe. Sy het by die verkeerslig stilgehou en vir ‘n geleentheid gewag om regs te draai.
Toe die lig oranje was, het sy begin draai. ‘n Bus vanaf Witrivier se rigting het haar aan die passasierskant getref en deur die heining wat onlangs op die middelman opgerig is, gesleep.
Die skade was so erg dat sy uit die voertuig gesny moes word. Sy word in Mediclinic Nelspruit vir rug- en kopbeserings behandel.
Volgens mnr. Viane Ndlovu, skakelbeampte vir Buscor, het hulle beeldmateriaal van die ongeluk by J&M Sekuriteit verkry. Dit wys duidelik dat albei verkeersligte groen was. Daar kan gesien word dat die bestuurder van die Ford Fiesta agter ‘n Ford Bantam staan en wag om regs te draai. Toe die Bantam draai, het sy gedink dit is ook veilig maar die bus het haar getref.
Die derde voertuig word nie op die beeldmateriaal gesien nie. Niemand in die bus is beseer nie. Buscor is besig om die voorval te ondersoek.
