Hard newsNews

Groot planne vir parkie

Twee snoepwinkeleienaars en die skoenmaker noem hulself nou die Park Rangers en sorg dat die parkie silwerskoon bly.

Die parkie in Ehmkestraat waaroor Laevelders nou al ‘n geruime tyd lees, het ‘n nuwe blaadjie omgeslaan. Voorheen het Nelspruit Post berig oor plakkers wat in die aande daar geslaap het en die rommel wat ‘n oogseer vir inwoners was. Alhoewel daar steeds twee snoepwinkels onwettig bedryf word en die skoenmaker ook nog daar is, lyk die parkie soveel beter as wat dit in ‘n lang tyd gelyk het.

Dit is als aan mnr. John Wilcox, eienaar van The Village SPAR te danke. Wilcox het al die berigte dopgehou en drie maande gelede besluit, genoeg is genoeg. Hy het met die onwettige handelaars gaan gesels en ooreengekom dat hulle die parkie sal skoonhou en dat hulle daarvoor beloon sal word.

Twee snoepwinkeleienaars en die skoenmaker noem hulself nou die Park Rangers en sorg dat die parkie silwerskoon bly. Wilcox betaal hulle ‘n sekere bedrag daarvoor elke maand en SPAR verskaf die drie mans met swartsakke, handskoene, harke en hemde. “Ek het ook vir hulle stoorplek vir al hul goedere gegee, sodat hulle nie meer nodig het om in die parkie te slaap nie,” vertel hy opgewonde.

Volgens Wilcox het hulle 360 swartsakke met rommel die eerste keer gevul. Die munisipaliteit verwyder die rommel een keer ‘n week. “Die beste van als is dat hulle nou eienaarskap geneem het. Hulle jaag mense weg wat rommel strooi en is trots op die werk wat hulle doen,” vertel hy.

Verlede maand het hulle paaltjies opgesit wat keer dat voertuie nie in die parkie kan inry nie. Daar is nou ‘n spesiale parkeerarea wat vir motoriste afgebaken is. Volgens Wilcox wil hulle vroeg volgende jaar saam met die munisipaliteit die parkie veiliger vir die gemeenskap maak. Hulle wil dit ‘n plek maak waar families oor naweke kan piekniek hou. Wilcox beplan ook om ‘n nuwe speelarea te bou wat nader aan die pad is sodat dit veiliger vir kinders sal wees. Hy daag ook ander besighede uit om by die projek betrokke te raak. Nelspruit Post het die parkie Maandag gaan besoek en gesien hoe die Park Rangers rommel optel en op die parkie trots is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button