
Mbombela – Die 2014-eindeksamen het Maandag 27 Oktober met Engels vraestel 1 in volle vaart afgeskop.
Die leerders was veronderstel om Maandag om 14:00 vraestel 2 van ingenieurs, grafika en ontwerp te skryf, maar die inkorrekte eksamens is egter uitgedeel.
Dit het by verskeie Afrikaanse skole, onder andere Hoërskool Nelspruit, gebeur. Die omslag dui wel aan dat dit vraestel 2 is, maar vraestel 1, wat reeds verlede week geskryf is, is egter uitgedeel.
Volgens die woordvoerder van die Departement van Onderwys, mnr. Jasper Zwane, het dié voorval geen negatiewe impak gehad nie. “Daar is tot dusver geen probleme by ons aangemeld nie en vanjaar is die vyfde jaar wat dié eksamen vlot verloop.”
Laevelder het Maandag vir Zwane in verband met die voorval geskakel. Hy het glo nie verstaan wat die probleem is nie en was ook nie bewus van die voorval nie. Zwane het nie op die vrae oor hoe dit gebeur het, reageer nie en het ook nie gesê hoe die probleem reggestel is nie.
