
OHRIGSTAD – Sewe renosters, onder meer ‘n een jaar oue kalfie, is in twee afsonderlike voorvalle vir ‘n baie klein deel van hul horings doodgeskiet.
Volgens mnr. Juan de Beer, bestuurder van die spesie-beskermingseenheid van die Mpumalanga Toerisme- en Parkeraad (MTPA), is al sewe renosters onthoring en die stropers het hulle “vir die absolute minimum” afgemaai.
Beide dié voorvalle het in een maand by die Ohrigstad Dam Natuurreservaat plaasgevind. Volgens De Beer is die gestroopte diere op die toeristepad geskiet.
“Ons het reeds een arrestasie gemaak, maar kan op die stadium nie verdere inligting verskaf nie.” De Beer het gesê hulle is op ‘n jagtog om die res van die stopers vas te trek en fragmente van koeëlpunte wat uit die karkasse verwyder is, is reeds vir ballistiese ondersoeke weggestuur om te bepaal of die voorvalle met mekaar verband hou.
Op 16 Oktober is daar reeds 869 renosters in Suid-Afrika gestroop. Honderd-en-elf hiervan is in Limpopo gedood.
Dié provinsie, waar die reservaat geleë is, is ook die een met die hoogste stropingsyfer.
Die ondersoek duur voort.
